Sportsterre soos Heinrich Ollie Terblanche en Vanes-Mari du Toit (voor) saam met Fourie du Preez, Jaco Nel, Hannes Noëth en Johan Nel van Helpende Hand.


Die Solidariteit Helpende Hand-opleidingsinstituut het Donderdag 9 November ’n suksesvolle Aand van Legendes met Hande wat Help by Sol-Tech in Monumentpark gehou. Die aand is spesifiek gehou om geld in te samel vir die opleiding van geakkrediteerde versorgers en het ’n bedrag van meer as R1 miljoen opgelewer.

Prominente sportsterre soos Vanes-Mari du Toit, Fourie du Preez en Heinrich Ollie Terblanche het die aand spesiaal gemaak met hul teenwoordigheid en gaste met hul betrokkenheid geïnspireer. Gian Groen het as gaskunstenaar opgetree en Jaco van Dyk was die aanbieder.

Hannes Noëth, die uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, het die geleentheid as ’n groot sukses bestempel en sy dank uitgespreek teenoor almal wat bygedra het. “Versorg ’n versorger – dit was die bedoeling van vanaand se geleentheid. Die Solidariteit Helpende Hand-opleidingsinstituut as deel van Helpende Hand het vanaand met legendariese mense hande gevat. Dit was ’n besonderse aand vol motivering en inspirasie,” het Noëth gesê.

Die geld wat ingesamel is, sal gebruik word om die tekort aan bekwame versorgers in Suid-Afrika aan te vul. Met die opleidingsinstituut wat reeds meer as 100 versorgers opgelei het, poog Solidariteit Helpende Hand om in die aanhoudende vraag na versorgers vir kwesbare mense en bejaardes in tehuise te voorsien.

Die aand het nie net op die gemeenskap se bydraes gesteun nie, maar ook op borge soos Solidariteit en die Virseker Trust. Solidariteit het R700 000 geskenk en die Virseker Trust R200 000.

Solidariteit Helpende Hand bly toegewyd aan die ontwikkeling en versterking van gemeenskappe. Die Solidariteit Helpende Hand-opleidingsinstituut sien uit na die groei van sy geakkrediteerde opleidingsprogram in die komende jaar en bedank die gemeenskap vir hul ondersteuning tot dusver.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die aand as ongelooflik beskryf. “Dit is ’n voorreg om te weet meer as ’n miljoen rand is nou beskikbaar om ons versorgers te versorg,” het hy gesê.. Besoek gerus die Solidariteit Helpende Hand-opleidingsinstituut se webwerf by www.helpendehandopleiding.co.za om ’n bydrae te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article