Hermanus se eie skerpskertser, Christie van Niekerk.

As ‘n mens dink aan Suid-Afrikaanse skerpskertsers (stand-up comedian) kom name soos Trevor Noah, Schalk Bezuidenhout, Barry Hilton en Marc Lottering op. Maar Hermanus pronk met sy eie skerpskertser – ‘n vrou!

Christie van Niekerk is nie skaam om op die verhoog te wees nie en dié aktrise het in 2024 besluit om die wêreld van toneelspel vir verhoogkomedie te verruil. Volgens haar het sy vasgevang gevoel in die toneelwereld. “Ek het gevoel ek moet uit my comfort sone uitkom en iets doen wat ek altyd wou doen. Ek het in ‘n huis grootgeword waar my pa baie lief is vir stand-up comedy en die res van die familie is almal uitstekende storievertellers. Dit is waarom ek besluit het om my as skerpskertser te bekwaam. Ek het ‘n datum vasgemaak, ‘n venue bespreek, die bul aan die horings gepak en die nuwe uitdaging aangevat… en die res is geskiedenis,” vertel Christie. “Dit is nie ‘n maklike beroep nie, maar dit maak my gelukkig.”

Vir Christie het baie skerpskertsers ‘n indruk op haar gemaak, maar dit is veral Rob van Vuuren, Schalk Bezuidenhout en die Australiese komediant Hannah Gadsby wat vir haar uitstaan. “Dié drie staan vreesloos op die verhoog en die selfvertroue wat hulle uitstraal om net hulself te wees, is iets waarna ek opkyk. Ek het al die voorreg gehad om saam met Rob en Schalk te werk en ek kan eerlik sê ek het baie by hulle geleer – veral die feit dat hulle enige situasie hul eie kan maak.” Haar droom is om eendag ‘n suksesvolle aktrise en komediant te wees. Sy sê die teaterwereld het haar van jongs af aangegryp en sy skryf ook deesdae produksies vir kinderteater. “Ek is net so dol oor acting as oor komedie. Musiekproduksies is ook iets wat my aantrek. Ek hou daarvan om vir myself geleenthde te skep en dis waarom ek stand-up comedy en skryfwerk doen.”

Haar leuse in die lewe is om nie bang te wees nie. “Ek was nog altyd ‘n bang mens en so vier jaar gelede het ek ‘n kopskuif gemaak om nie meer bang te wees nie en dit het deure vir my oopgemaak. Dit is ook belangrik om elke dag in liefde te lewe – dit wat jy insit, gaan jy eendag terugkry.”

Christie is betrokke by die Cave-teater en volgens haar is dit die ideale plek vir inwoners en besoekers om te kom besoek as daar produksies is. “Dit is so ‘n spesiale plek – ‘n plek waar jy na produksies kan kyk en waar jy die see nie net kan ruik nie, maar kan hoor ook. Ek sal graag wil hê mense moet meer bewus raak van die teater by die hawe en dis waarom ek met Cave Comedy begin het. My doel is dat dit elke maand moet gebeur sodat die Cave-teater kan blootstelling kry.”

Christie woon van April af in Onrus en al het sy gereeld vir haar ouma in Hermanus kom kuier, voel dit vir haar of ‘n nuwe lewe vir haar oopgegaan het vandat sy permanent hier woon. “Dit voel nou vir my of ek een van die berge is. Die stadige pas was vir my ‘n aanpassing, maar deesdae voel ek gemaklik daarmee en baie tuis.”

Haar raad aan ander jong skerpskertsers is om ‘n dik vel te kweek. “Jy moet kritiek kan hanteer – veral van die mense wat vir jou lief is. En jy moet ook bewus wees dat daar soms goed in jou lewe gaan wees wat nie gaan werk nie en dan moet jy dit as ‘n les sien.”

Christie skerts en sê as sy nie in die vermaaklikheidswêreld was nie, sou sy ‘n Checkers-Sixty60-bestuurder wou wees. “Niks sou vir my lekkerder gewees het as om op ‘n Vrydagmiddag ‘n brood vir ‘n ou tannie te gaan gee nie,” lag sy.

Inwoners en mense van oral gaan nog baie van Christie hoor en almal kan met groot verwagting uitsien wat hierdie jong meisie in Hermanus gaan doen.

• Cave Comedy bied Saterdag (25 Oktober) weer ‘n vertoning by die Cave-teater aan waar skerpskertsers soos Callum Hitchcock, Emily Hitchcock, Christie en Yaaseen Barnes gaan optree. Die optrede begin om 19:00 en kaartjies is by Quicket beskikbaar.

dummy text

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article