Rugbykoors loop hoog met die Springbokke wat deur is na die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi, maar dis nie al nie.
Plaaslik sien die ondersteuners van Safcol in Grabouw en Hawston Skrik vir Niks uit na die Boland-Top-12, wat Saterdag (21 Oktober) begin het.

Rugbygeesdriftiges kan verseker wees van klipharde rugby, waar die toptwee-spanne van elke streek in die Boland moet uitspeel om as die kampioen van die Boland gekroon te word.
Die ses streke wat die Boland-Top-12 verteenwoordig, is Weskus, Witsentraal, Overberg, Breëlangeberg, Swartland en die Noordwes.
Saffies en Hawston Skrik vir Niks gaan dit uitspook teen die spanne van Saldanha (die verdedigende kampioen), Mamre, Bella Vista, Roses, Robertson, Young Hamiltons, Darling, Wesbank, Vanrhynsdorp Eagles en Delicious.
Hawston Skrik vir Niks is in Groep A saam met Robertson, Eagles, Saldanha, Roses en Darling, terwyl Saffies in Groep B saam met Mamre, Bella Vista, Young Hamiltons, Wesbank en Delicious meeding.
Hierdie jaar pronk die Boland-Top-12 ook met splinternuwe borge – Sanlam, Vumatel, Tekkie Town, Santam en Umbro. “Ons is baie bly dat Sanlam, as hoofborg, saam met Vumatel, Tekkie Town, Santam en Umbro in die belangrike kompetisie aan boord gekom het. Hul toewyding om talent te ontgin en sportmanskap te bevorder, is lynreg met dit waarvoor ons as Boland-rugbyunie staan,” het die president van die Boland-rugbyunie, Bennie van Rooi, gesê.
Die naweek se wedstryd waar Hawston teen Darling op Darling se sportterrein en Saffies tuis teen Wesbank gespeel het, het bewys dit gaan ’n strawwe stryd wees en geen wedstryd gaan op ’n skinkbord gegee word nie.
Saterdag se wedstryd in Grabouw – in gietende reën – het die Saffies-ondersteuners op hul tone gehad. Die plaaslike span was halftyd 14-15 agter, en nadat hulle van die kleedkamers af gekom het, was hulle duidelik ’n ander span. Hulle het die span van Malmesbury voor gepak en in die eerste 10 minute van die tweede helfte ’n verdoelde drie aangeteken nadat die Safcol-kaptein en agtsteman, Benjamin Dwayi, losgebreek en ’n goeie lopie gehardloop het voordat dit in ’n drie geëindig het. Die eindtelling was 21-15 in Safcol se guns. Dwayi was ook Sanlam se speler van die wedstryd.
Hawston was duidelik die Darling in Darling toe hy die tuisspan ’n bloedneus gegee het.
Roland Swarts is as die speler van die wedstryd aangewys.
Skrik vir Niks het met 40-39 gewen.




