Riviersonderend-inwoner se boek nou ook op papier en in tuisdorp bekendgestel

Sonia Jacobs (sesde van regs in die swart rok) saam met gaste by die onlangse bekendstelling van haar boek in Riviersonderend. Foto: Sydney Armoed

Sonia Jacobs se boek Net Een Traan is vroeg in 2024 aanlyn bekendgestel. (“ ’Net een Traan’ ná Pakkies” Hermanus Times, 6 Maart 2024).

Dit was ‘n groot oomblik vir Sonia toe haar boek op 11 November in samewerking met Funky Force Youth Development Movie Center NPO en TWK-biblioteekdienste by die Riviersonderend-biblioteek in gedrukte vorm bekendgestel is.

Die byeenkoms is goed bygewoon deur lede van die gemeenskap sowel as gaste van omliggende dorpe. Die verrigtinge is aangebied deur Hazel Rose, ‘n skrywer van Kaapstad. Rose het met insig en humor die uitdagende, maar ook vervullende, pad na ‘n boekbekendstelling met die gehoor gedeel.

In haar toespraak het Sonia openhartig vertel oor die persoonlike ervarings en trauma wat sy as jong meisie, sonder toegang tot hulp, ervaar het en wat tot die skryf van die boek gelei het. Haar boek is daarop gemik om jong mense en vroue aan te moedig om oor hul ervarings te praat. Sonia het die hoop uitgespreek dat haar boek ander sal inspireer om genesing te vind.

Denis Bogenhagen van Radio Overberg FM het by die geleentheid ‘n sertifikaat van waardering vir haar toewyding en inspirasie in die gemeenskap aan Sonia oorhandig.

Jaco Koen, verteenwoordiger van Funky Force Youth Development Movie Center NPO, het by die geleentheid meer vertel van die organisasie se werk en impak. Hy het genoem dat hulle, ondanks beperkte finansiële hulpbronne, al meer as 155 mense gehelp het en dat hulle steeds daarna streef om meer jong mense te ondersteun.

• Sonia se boek is teen R200 beskikbaar en kan by Jaco Koen by 083 394 4425 bestel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article