Motorfietsry-entoesiaste sal hierdie naweek na verwagting in groot getalle vir die 16de jaarlikse Caledon Canola Run opdaag, wat deur Caledon Rapportryers aangebied word.
Dié gewilde geleentheid, wat aanvanklik begin het met ’n groep van net ses motorfietse, word elke jaar in die eerste naweek van September gehou sodat deelnemers deur die pragtige geel en groen kanolalande, wat dan op sy mooiste is, kan ry. Deelnemers aan die rit, wat Saterdag (7 September) plaasvind, kan ook uitsien na ’n paar opwindende pryse wat op die spel is.
“Die roete hierdie jaar begin weer by Lemoenskopplaas, op die N2 by die Greyton-afdraai, so 3 km buite Caledon. Ons verander die roete elke tweede jaar om sodoende deelnemers die geleentheid te gee om meer van ons omgewing te ontdek en te geniet,” vertel Rudi Coetzee van Caledon Rapportryers.
Die Canola Run is nie ’n ren nie en daarom is dit oop vir deelnemers van alle ouderdomme en vaardigheidsvlakke. Die roete is ongeveer 95 km en strek hoofsaaklik oor grond- en plaaspaaie.
“Plaaseienaars maak hul plase oop vir die publiek sodat die Canola Run aangebied kan word. Dit is werklik asemrowende uitsigte wat deelnemers vanjaar sal beleef. Hoewel beginners die roete dalk ’n bietjie uitdagend kan vind, staan beamptes deelnemers by. Ons het al deelnemers van sewe tot 70 jaar oud gehad,” vertel Rudi.
Deelnemers en ondersteuners moet van 07:00 af by die beginpunt aanmeld. Die inskrywingsgeld beloop tot en met 5 September R400 per volwasse ryer en R120 vir kinders 13 jaar en jonger, terwyl passasiers R120 betaal. Van 6 September af is die kostes R450 en R150 onderskeidelik. ’n Braai-ete is by die prys ingesluit. Aanlyn kaartjies is by www.quicket.co.za beskikbaar. Inskrywings kan ook op die dag gedoen word.





