Die ramptoelaag van die nasionale regering aan die Theewaterskloof-munisipaliteit ná die oorstromings die afgelope tyd sal baie goed te pas kom.
Volgens die munisipale bestuurder, Wilfred Solomons-Johannes, gaan die R41 miljoen veral dorpe soos Greyton, Genadendal, Caledon, Tesselaarsdal en Myddleton help. Van die geld gaan gebruik word vir die rehabilitasie van teer- en grondpaaie en die herstel van brûe wat beskadig is. “Ons het World Focus 226 CC aangestel om die werk te doen en die maatskappy het Maandag (27 Mei) aan die projek begin werk. Hulle gaan aan 24 projekte werk en sal dit na verwagting binne 10 weke voltooi,” het Solomons-Johannes gesê.
Volgens hom is hy vol vertroue dat die oordeelkundige gebruik van die geld tot voordeel van die gemeenskappe gaan wees en ook ’n voorsorgmaatreël sal wees vir toekomstige rampe aangesien die reënseisoen nou op hande is.




