Die Overberg-onderwysdistrik bly verbind tot die bevordering van gehalte-onderrig deur die toepassing van samewerkende leerbeginsels, soos vervat in die teorieë van Lev Vygotsky.
Hierdie benadering, wat die belangrikheid van sosiale interaksie in leer beklemtoon, het op 9 April prakties gestalte gekry toe skole van oor die distrik heen aan ‘n grootskaalse ontwikkelingsessie deelgeneem het.
Die sessie is gelei deur Xavier Julius, ‘n waarnemende Afrikaans-raadgewer, wat die waarde van professionele leergemeenskappe beklemtoon het.
Gr. 9- en gr.-12-onderwysers het in verskeie sentrums saamgewerk, waar kennisdeling en die ontwikkeling van assesseringspraktyke sentraal gestaan het. Hierdie samewerking het nie net professionele groei bevorder nie, maar ook sterk kollegiale bande gevestig.
By die Hoërskool Hermanus het die gr. 9-onderwysers onder leiding van die hoofnasiener, Jaco Schoeman, en die Afrikaansonderwyser Carli Rossouw vergader. Hul kundigheid en leiding het bygedra tot die verdieping van onderwysers se begrip van doeltreffende nasienpraktyke.
Rossouw, wat in ‘n leierskapsrol ontwikkel is, het erken sy was aanvanklik senuweeagtig oor die verantwoordelikheid, maar het haar dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid wat haar aangebied is.
Intussen het die gr.12-span onder leiding van Elgimine Fourie, ‘n Afrikaansonderwyser by Hawston Sekondêr, hul sessie suksesvol gefasiliteer. Sy leierskap en kundigheid het ‘n beduidende bydrae tot die ontwikkeling van die vak gelewer en hy word wyd as een van die voorste opstelskrywers en nasieners in die Overbergdistrik erken.
Ander sentrums waar die sessies plaasgevind het, sluit in Groenberg Sekondêr onder leiding van Chandre Julius; die Hoërskool Bredasdorp onder leiding van Liezel van Schalkwyk; Villiersdorp Sekondêr onder leiding van Henriette Fortuin en Swellendam Sekondêr onder leiding van Zenobia Plaatjies.
Adele Kroukamp van Emil Weder Sekondêr het die sessie as besonders positief ervaar en beklemtoon dat sy dit terdeë geniet het. Sy het ook haar waardering uitgespreek vir die geleentheid om kollegas van die Hoërskool Overberg te ontmoet en professionele netwerke te versterk.
Volgens Fortuin was dit vir haar ‘n besondere voorreg om leiding aan opvoeders te bied. Sy het haar vertroue uitgespreek dat hierdie inisiatief tot uitstekende uitslae in die Nasionale Seniorsertifikaat-eksamen sal bydra.
Julius het gesê die uiteindelike doel van hierdie inisiatief is om ‘n tasbare verskil in leerders se akademiese prestasie te maak.
“Ons vertrou hierdie ontwikkelingsessie wat plaasgevind het, sal ‘n positiewe uitwerking op die Overberg-leerders hê met die vertroue dat alle leerders in 2026 sukses sal behaal.”
Hierdie inisiatief dien as ‘n bewys van die distrik se verbintenis tot voortgesette professionele ontwikkeling en die bevordering van uitnemendheid in Afrikaansonderrig.






