Spekulasie rakende die voorval waar ‘n leerder van die Hoërskool Punt van Mosselbaai Saterdag (8 Augustus) tydens ‘n sportbyeenkoms in Bredasdorp met ‘n mes gesteek is, kring nou wyer uit.
Die voorval waarin die gr.12-leerder van die Hoërskool Punt, wat vir die skool se tweede span speel, op pad na die busse met ’n mes gesteek is, het wye reaksie op sosiale media ontlok.
Die Hoërskool Bredasdorp het op sy Facebookblad gesê hy betreur ’n voorval wat na afloop van die sportdag teen die Hoërskool Punt gebeur het. “ ’n Kind wat nie aan die Hoërskool Bredasdorp verbonde is nie, het ’n seun van die Hoërskool Punt op ons skoolterrein met ’n voorwerp gesteek. Die seun is in die hospitaal behandel en is stabiel. Die polisie ondersoek die saak verder. Ons wens die beseerde seun vinnige beterskap toe.”
Nadat dit aan die lig gekom het dat die verdagte nie aan die Hoërskool Bredasdorp verbonde is nie, is beskuldigings na Albert Myburgh Sekondêre Skool in Bredasdorp geslinger aangesien die skool se o.14-rugbyspan ook aan die sportdag deelgeneem het.
Skool bewus van spekulasie
Die skool het vandag op sy Facebookblad gesê hy neem kennis van mediaberigte en openbare kommentaar rakende die ernstige voorval wat Saterdag in Bredasdorp plaasgevind het.
“Ons gedagtes is in die eerste plek by die beseerde jongman en sy familie. Ons wens hom opreg sterkte en volkome herstel toe.
“In die lig van die spekulasie wat tans in ons gemeenskap en op sosiale media versprei word, ag die skool dit nodig om die omvang en aard van Albert Myburgh Sekondêre Skool se betrokkenheid by Saterdag se sportprogram duidelik te stel.”
Volgens hulle is die o.14-rugbyspan genooi om aan ‘n rugbywedstryd as deel van die dag se program deel te neem. “Albert Myburgh se deelname het met die afloop van ons span se wedstryd geëindig, waarna ons spelers en afrigtingspan die terrein verlaat het.”
Hulle wil dit duidelik stel dat die voorval nie tydens ‘n Albert Myburgh-rugbywedstryd plaasgevind nie en het nie onder toesig van Albert Myburgh Sekondêre Skool of ons afrigtingspan plaasgevind nie.
“Aangesien die aangeleentheid minderjariges betrek en tans die onderwerp van ‘n polisieondersoek is, sal Albert Myburgh Sekondêre Skool geen individuele leerder identifiseer, sy of haar identiteit bevestig, of die omstandighede van enige individuele leerder in die openbaar bespreek nie,” het die skoolhoof Eugenia Paulo-Goagoseb gesê.
Sy het ook bevestig en gesê die skool sal sy volle samewerking aan die owerhede verleen. “Vir Albert Myburgh is daar egter ‘n groter beginsel wat ons graag baie duidelik wil stel. Ons is doelbewus besig om brûe te bou. Ons werk hard daaraan om verhoudinge tussen Albert Myburgh, ons buurskole en die breër Bredasdorp-gemeenskap te versterk. Ons glo dat die kinders van hierdie dorp uiteindelik ons almal se kinders is en dat skole nie as eilande binne dieselfde gemeenskap kan funksioneer nie,” het sy op die Facebookplasing gesê.
Sy het ook ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om verantwoordelik met hierdie aangeleentheid om te gaan en om nie minderjariges te identifiseer of onbevestigde inligting te versprei nie.
Polisie bevestig saak
Volgens ’n polisiewoordvoerder, konst. Ndakhe Gwala, word ’n saak van poging tot moord ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie. “Die omstandighede rakende die voorval word ook steeds ondersoek en in dié stadium kan ons net bevestig dat ’n 17-jarige seun steekwonde aan sy rug opgedoen het,” het hy gesê.
Die slagoffer is na die voorval deur mediese personeel behandel en na die hospitaal geneem. Die toestand van die leerder is tans stabiel.
• Die voorval het gebeur slegs ’n week nadat toeskouers en leerders van die
Hoërskool Menlopark en Dr. E.G. Jansen mekaar getakel het. Volgens die woord-
voerder van die Hoërskool Dr. E.G. Jansen het oudleerders van die Hoërskool Menlopark glo rassistiese kommentaar gelewer, wat tot die voorval aanleiding gegee het. Die twee skole is besig met ondersoeke.





