Overstrand-wetstoepassing se K9- en landelikeveiligheid-eenhede het die afgelope ruk verskeie suksesse behaal en misdaad die nekslag toegedien.
Dié eenhede, in samewerking met die mariene-eenheid, het tussen 31 Mei en 2 Junie verskeie suksesvolle operasies uitgevoer. Die beamptes het onder meer ’n Suid-Afrikaanse vrou en ’n man van Tanzaniese afkoms vir die besit van en handel in dwelms in hegtenis geneem. Daar is beslag gelê op meer as 2 kg saamgeperste dagga, ’n sportnutsvoertuig (SUV), vier selfone en R3 900 kontant. In ’n afsonderlike voorval het die beamptes een verdagte in hegtenis geneem nadat meer as 2,7 kg dagga in sy besit gevind is. Hy het op aanklag van handel in dwelms in die hof verskyn.
Die wetstoepassingsbeamptes het op Vrydag 2 Junie op 4 108 eenhede perlemoen met ’n geraamde straatwaarde van R2 miljoen beslag gelê nadat hulle inligting oor ’n verdagte voertuig opgevolg het. Daar is ook beslag gelê op die voertuig wat verlate in 7de Straat, Voëlklip, gevind is. Niemand is in hegtenis geneem nie.
’n Voertuig wat in Mei in Citrusdal as gesteel aangemeld is, is ook deur die op-en-wakker beamptes teruggevind. Die bestuurder van die voertuig is weens die besit van gesteelde goedere in hegtenis geneem.
Boetes van R21 903 is vir verskeie oortredings uitgereik en daar is ook op ’n minibus en bakkie beslag gelê.
Die Wes-Kaapse minister van polisie-oorsig en gemeenskapsveiligheid, Reagan Allen, het die beamptes geprys vir hul toegewydheid wat gereeld vrugte afwerp.
“Ons sal misdadigers onder geen omstandighede toelaat om gemaklik te raak nie, hulle terroriseer ons gemeenskappe en voeg geen waarde tot die samelewing by nie. Hulle hoort agter tralies,” het Allen bygevoeg.
“Ons doel as die Wes-Kaapse regering is om veiliger gemeenskappe vir inwoners te verseker. Ons sal voortgaan om hierdie eenhede te versterk sodat hulle meer suksesse kan behaal.”





