Lizël Kimber en Sam van Straaten in ‘n pragtige kanolaveld tussen Caledon en Napier. Lees meer oor kanola op bladsy 5. Foto: Mitzi Buys

In sy bekende gedig “Oktobermaand” besing C. Louis Leipoldt dié maand as die mooiste, mooiste maand, maar in die Overberg is Augustus, September én Oktober gewis die mooiste maande, want dis dán wanneer die Rûens in wuiwende lande van goudgeel kanola en malse groen graan getooi is. Dié tyd van die jaar lyk die hele Overberg soos een groot geel-en-groen laslappiekombers.

Kanola (Brassica napus) is familie van die brassicas, die koolfamilie, waarin gewasse soos blomkool en broccoli gekategoriseer is. In kouer wêrelddele is kanola ‘n somergewas, maar in Suid-Afrika is dit ‘n wintergewas wat in 1996 as ‘n lewensvatbare gewas gevestig is.

Sam van Straten, van die plaas Hillside buite Caledon, was een van die heel eerste boere wat kanola in Suid-Afrika geplant het. “ ’n Vriend het my daarvan vertel en kort daarna het ek ‘n sakkie kanolasaad gekry – genoeg om ‘n kamp van ongeveer 35 hektaar te saai. Kanola het twee goeie eienskappe – sy penwortel penetreer diep in die grond in en dit berei weer die grond voor vir die daaropvolgende gewas. En dan is kanola-olie, wat uit die saadknoppe verkry word, ook hoog in aanvraag. Dit is ‘n wisselbougewas met ‘n driejaarrotasie.”

Barendo Fourie, die bestuurder van Vaalplaas, plant al sedert 2004 kanola op Vaalplaas buite Caledon, maar het dit in 1999 vir die eerste keer op ‘n ander plaas waar hy gewerk het, geplant. “Jy kry verskillende kanola-kultivars en ons probeer wegbly van die baie lang kanola, wat so prentjiemooi is vir almal, want as dit strooptyd is, is dit vreeslik moeilik om dit deur die stroper te kry. Ons plant die kultivars wat ‘n bietjie korter is – so heuphoogte – want anders is dit net ‘n klomp stokke wat deur die stroper gaan en eintlik is ons mos net agter die oliehoudende saadjie aan,” sê Fourie.

Almal sê die kanola is vanjaar so mooi, maar Fourie sê na sy mening is dit swakker as verlede jaar. “Verlede jaar was die klimaat net reg, maar vanjaar het ons ‘n probleem met slakke. Hulle het ons behoorlik pakgegee en daar is groot kolle waar eintlik geen kanola oorleef het nie. ‘n Mens sien dit nie sommer in die verbyry nie, want dit lyk asof dit toegegroei is, maar eintlik is daar geen plante in daardie kolle nie. Verlede jaar was uit en uit ‘n briljante kanola-jaar, maar in my oë gaan dit vanjaar ‘n goeie jaar vir koring en gars wees, maar dit sal móét reën. As dit nie nou reën nie, het ons moeilikheid. Wanneer die koring in die aar kom en die kanola blom, is ‘n baie kritieke stadium. Omdat kanola ‘n wisselbougewas is, plant ons gewoonlik een jaar koring, dan gars en die derde jaar weer kanola,” sê hy.

Fourie sê ook in die Caledon-omgewing stroop niemand gewoonlik voor 20 Oktober nie en dan word die kanola na die SOILL-raffinadery (Southern Oil) in Swellendam geneem. Die Wes-Kaap verbou ongeveer twee derdes van Afrika se algehele kanola-produksie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article