Vir die Kalfiefees-komitee is gemeenskapsbetrokkenheid van kardinale belang. Die komitee het hierdie jaar besluit om ‘n skoner, sterker omgeegemeenskap te skep.
The Creative Space se vernuwende Swop Shop- en herwinningsprojek is op 25 Junie by Hawston Sekondêr van stapel gestuur.
Die projek moedig inwoners aan om herwinbare materiaal te versamel en dit vir punte te verruil. Die punte kan dan gebruik word om noodsaaklike skool- en huishoudelike produkte aan te skaf.
Die projek is deur die plaaslike inwoners onder leiding van Vivienne Mitchley bedryf. Só bevorder die inisiatief werkskepping, omgewingsverantwoordelikheid, gemeenskapsontwikkeling, vaardigheids- ontwikkeling en menswaardigheid.
Die Kalfiefees sal deur hierdie samewerkingsooreenkoms volgehoue ondersteuning bied deur finansiële bydraes, skenking van goedere, hulp met geldinsameling en bewusmakingsveldtogte om die langtermyn-volhoubaarheid en groei van die projek te help verseker.
“Die Kalfiefees glo dat kuns, kultuur en gemeenskapsontwikkeling hand aan hand gaan,” sê Hester Finberg, die feesdirekteur.
“Hierdie vennootskap stel ons in staat om ‘n betekenisvolle bydrae te lewer tot ‘n projek wat nie net die omgewing beskerm nie, maar ook geleenthede skep en praktiese ondersteuning bied aan leerders en gesinne wat dit nodig het.
Wat kan jy herwin?
Plastiekbottels, glasbottels en -flesse, blikkies, papier en karton is die fokusprodukte.
Die afgeepunt is by Hawston Sekondêr en die Swop Shop in Hawston is Vrydae van 13:30-15:30 oop.
• Bel Vivienne by 084 513 2804 of Hester Finberg by 083 308 3002 vir nog inligting.





