Die Nissan Micra wat Dimitris du Toit in November 2020 buite Stanford gekaap het.


’n Man wat twee jaar gelede ’n inwoner van Stanford ontvoer en boonop probeer het om drie motors te kaap, is verlede week tot 27 jaar tronkstraf gevonnis.

Dimitris du Toit (35) is Donderdag in die streekhof in Hermanus op vyf aanklagte van roof met verswarende omstandighede, ontvoering, poging tot roof met verswarende omstandighede en twee aanklagte van huisbraak skuldig bevind en gevonnis.

Harold Engelbrecht was die aanklaer.

Dimitris het op 26 November 2020 ’n inwoner van Wortelgat buite Stanford met ’n voorwerp gedreig en gedwing om met sy wit Nissan Micra in die rigting van Gansbaai te ry. Tydens die nagmerrierit is die slagoffer glo met ’n mes aan sy rug gesny.

Du Toit het glo sy slagoffer se bankkaart in Gansbaai gebruik om geld by ’n OTM te trek.

Die Hermanus Times het destyds berig dat Marietjie Hanekom-Buhr en haar man, Willie, naby Franskraal se afdraai op die verdagte afgekom het, wat na bewering besig was om ’n ander voertuig te probeer steel.

Die eienaar van dié voertuig was, volgens Marietjie, op pad om haar man se as te gaan haal toe die voorval gebeur het. Buhr het vertel hoe haar man op die voertuig afgepeil en toe die aanvaller se “wapen” afgevat het. Hulle het ontdek dat dit nie ’n regte wapen was nie, maar ’n pyp met ’n stuk hout daaraan. Omstanders het die eienaar van die voertuig bevry.

Die aanvaller het egter daarin geslaag om almal te ontduik en met die Nissan Micra in die rigting van Pearly Beach gejaag. Hy het beheer oor die motor verloor en in bosse langs die pad beland.

Du Toit is later in ’n huis in Pearly Beach, waar hy ingebreek het, in hegtenis geneem.

Du Toit het volgens berigte ook probeer om voertuie in Franskraal en Pearly Beach te steel.

Hy is 15 jaar tronkstraf opgelê vir roof met verswarende omstandighede, 10 jaar vir ontvoering, waarvan vyf jaar saam met die vonnis van 15 jaar uitgedien sal word. Hy is ook tot ’n verdere sewe jaar direkte tronkstraf gevonnis vir poging tot roof met verswarende omstandighede en sewe jaar tronkstraf elk op die twee aanklagte van huisbraak, wat hy saam met die sewe jaar tronkstraf moet uitdien.

Eric Ntabazalila van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die Wes-Kaap sê die NVG verwelkom die vonnis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article