Dit is gewoonlik in tye van nood wanneer mense by mekaar staan.
Dié hartseer werklikheid was weer aan die orde van die dag tydens die afgelope oorstromings wat die Overberg getref het – inwoners wat die ekstra myl vir mekaar loop, bure wat tot laatnag werk om waterskade in huise te herstel en selfs raadslede wat kniediep in die water loop om mense by te staan waar hulle hulp benodig.
Een so ’n inwoner, wat nooit bakhand staan nie, maar eerder haar hande en hart vir almal oopmaak, is die Grabouw-inwoner Isabel Bailey.
Die inwoners ken haar as die tannie wat nie op haar bek geval is nie, die vrou agter die G-Boyz en seker dié span se grootste aanhanger, en ook die tannie wat die waterkwessie van Grabouw verlede jaar op nasionale televisie bespreek het.
Loop jy Isabel raak, groet sy jou joviaal met ’n “hallo geliefde”, en as daar moeilikheid in die dorp is, is sy daar om dit te help oplos of om bewusmaking daaroor te skep. Sy is ook altyd by die hof – veral as dit oor vroue en kinders gaan.
“Kyk, almal ken my as ’n gemeenskapsaktivis, maar eintlik is ek net lief vir my mense en my dorp. Ek maak my mond oop as iets my pla en steur my nie aan die politics nie. Dit gaan oor die mense nie oor die ouens se ambisies en al hul leë beloftes nie,” vertel sy. “As ek nie met die raadslede saamstem nie, sê ek hulle sommer reguit wat my pla, maar as hulle iets goeds doen, dan sal ek hulle prys vir dit wat hulle bereik het en dit op Facebook ook uitbasuin.”
Om rustig by Isabel in Pineview te kuier, is nie moontlik nie – daar is altyd ’n klop aan die deur van iemand wat in die nood is, of sy is besig op haar selfoon om skenkings te soek. “Ek het al geleer jy moet vra, en die gemeenskap gee graag; ons kyk uit vir mekaar.”
Haar goeie hart eindig nie by die mense nie en die diere van Grabouw lê haar ook na aan die hart. “Diere kry net so swaar soos mense. Partykeer is van die honde hier oortrek met vlooie en bosluise, dan dip ek hulle en samel vir hulle kos in.”
Sy dra haar liefde vir haar gemeenskap ook aan haar dogter Natasha en kleindogter Natalee oor. Dié drie het met die onlangse oorstromings nie geskroom om in te spring en die Grabouw-inwoners wat alles verloor het, by te staan nie. Sy het verlede week op haar Facebook-blad geskryf: “My moeg is my moeg. Nou eers klaar vanaf Granny Smith en Rosemary-straat.”
Sy het ook ’n beroep op die munisipaliteit gedoen om sandsakke en sakke na die huise te neem. Met trane in haar oë vertel sy jou van die ma van een van die plakkershutte wat alles verloor het: “Die kind het nie eens doeke nie; hulle het alles verloor – selfs hulle menswaardigheid. Maar stukkie vir stukkie gaan ons almal kan help, gaan ons almal kan bystaan en weer help sodat hulle op hul voete kan kom.”
Isabel is duidelik Mev. Grabouw, dié vrou wat veg vir die dorp; wat nie vaskyk in ras, geslag of klas nie; wat ook nie vir enige vername politici terugstaan nie en iemand wat jy aan jou kant wil hê as jy “oorlog” toe moet gaan.





