Die bestekopname is gedoen – landbou toon miljoene rand se verlies, paaie is onbegaanbaar, en mense het nie net hul geliefdes verloor nie, maar ook hul eiendomme en diere . . .

“Die nadraai van die oorstromings wat die Overberg verlede week getref het, is groter as wat ons dink. Dit wat ons in die koerante gelees en op Facebook gesien het, is maar net ’n druppel aan die emmer,” sê ’n gemeenskapsaktivis.Diereherberge

Volgens haar is dit veral die diere wat onder haglike omstandighede ly.

“Net soos tydens die Covid-19-pandemie van 2020 is die diereherberge tot oorlopens toe vol. As mense swaarkry, is hul troeteldiere die eerste waarvan hulle ontslae wil raak.”

Die dierewelsynsorganisasies wat diereherberge het, soos Gaws in Grabouw en Haws in Hermanus, sê egter die herberg van die diere is nie vir hulle so ’n groot probleem soos ander uitdagings nie. Die Grabouw-dierewelsyn gaan swaar gebuk onder die onlangse oorstromings en die toestand van die paaie is só erg dat geen voertuig op sommige plekke kan ry nie – veral in buurte soos Kleinbegin, Rooidakke en Waterwerke.

“Ons het ’n voedingskema in Kleinbegin, waar ons die troeteldiere daagliks kos gee, maar nou kan ons glad nie daar uitkom nie. Ek wil nie weet in watter toestand die diere gaan wees as ons wel eendag daar kan uitkom nie,” sê die woordvoerder.

“Ons deel elke week ongeveer 80 kg kos vir die troeteldiere uit, en in dié stadium het ons nie soveel kos nie. Nou kook ons bene af om dit aan die diere te voorsien.”

Sy vertel verder tydens die gure weer was daar nie genoeg hondehokke en komberse om die diere warm te hou nie. Volgens die woordvoerder bied elke seisoen sy eie uitdagings en is enige skenking welkom. “Ons het ’n liefdadigheidswinkel in die Spar-sentrum en mense is welkom om kos, komberse of hokke aan ons te skenk.”

Volgens Haws het hulle nie daadwerklike probleme van oorvol hokke gehad nie, maar was die tekort aan water en die waterbeperkings wat ingestel is, baie uitdagend. “Gelukkig het die inwoners ons hiermee bygestaan en water verskaf. Ons het ook vooraf ’n veldtog van stapel gestuur om troeteldierkos in te samel, en met dié veldtog kon ons darem kos aan diere in informele nedersettings voorsien,” sê die woordvoerder. Perlemoen spoel uit

Die departement van bosbou, visserye en omgewingsake het bevestig groot getalle perlemoen, alikreukel en ander skulpvisse het langs die Overstrand en veral by Uilenskraalmond uitgespoel.

Die departement het ook gewaarsku dat dié ongewone verskynsel dalk nog hierdie week sal voortduur. Die oorstromings het veroorsaak dat vars vloedwater die sout seewater aan die kus naby die land “verdun”. Visse geneig om weg te beweeg uit hierdie gebiede, maar stadiger en nie-bewegende ongewerwelde seelewe kan nie en is onder fisiologiese spanning weens die water se laer soutinhoud.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article