Wanneer ’n mens in Chavonnesstraat verby die Caledon-begraafplaas (wat deesdae ongelukkig gereeld onder vandalisme deurloop) ry, kan jy net met verwondering kyk na die pragtige tuin wat Maria Ainsley langs die pad aangelê het.
Tannie Maria, wat in Augustus 74 jaar oud word, is oorspronklik van Vyeboomplaas, maar woon die afgelope agt jaar by haar seun Jacques Brinkhuys in Caledon en het twee jaar gelede met die tuin begin.
“Ek het twee drome gekry om die tuin te maak met ’n stem wat gesê het: ‘Jy moet plant’,” vertel Tannie Maria. “Ek het nie dadelik begin nie. Ek het eers weer die Here ingevra: ‘Wat moet ek doen?’ en die stem het weer gesê ‘jy moet plant’. Toe begin ek op die sypaadjie.”
Iemand het ’n klomp plantjies en ’n vrag mis gebring, en iemand anders ’n bakkievrag aalwyne.
“Soos ek plant, sê ek: ‘Here, laat hulle groei.’ Ek sê: ‘Here, ek weet ek gaan nie water hê nie, maar U gaan vir my water gee.’ En elke keer as dit reën, dank ek die Here. Ek het nie ’n tenk of ’n hose pipe nie en ek vat ook maar die wasmasjien se water as ek klaar gewas het.”
Die kinders in die huis help Tannie Maria met die voorbereiding van die grond. “Alles wat ek plant, groei . . . tot die boompies ook. Ek druk net in en dan groei hulle. Op Vyeboom het ek ook tuin gemaak en selfs ’n prys gewen.”
Tannie Maria sê die mense in die omgewing is trots op haar tuin en meer ander mense begin nou ook om hulle sypaadjies te verfraai. “Ek sal dit nogal love as daar nog meer mense is wat die begeerte het om ook ’n tuin te begin. Jy bou mos die natuur op – én suurstof vir die mense om in te asem.”
Tannie Maria is nog op soek na ’n suurlemoen- en kweperboom, maar sê indien mense steggies of raad wil hê, gee sy met graagte, want tuinmaak is vir haar ’n groot vreugde. . Carel en Annetta Titus, twee ywerige tuiniers aan die buitewyke van Bergsig, het nie net hul sypaadjie verfraai nie, maar ook ’n pragtige meenttuin voor hulle huis aangelê.
Annetta vertel: “Ons het gedurende lockdown met die tuin voor die huis begin. Ons was verveeld en die binnetuin was oorvol en ek wou nie plante weggooi nie. Toe begin ek en my man en my meisiekind en my kleinkind om die tuin te maak.”
Annetta sê die tuin is veral in die lente baie mooi danksy sonneblomme en ander blomplante.
“Hier kom ook verskillende voëltjies, want ek sit gereeld voëltjiesaad uit en hou ook hulle waterbak skoon en vol. Selfs een van die bure se katte kom eet ook daar, want ek sit rys en ander goedjies ook uit. Die kat hou nou weer die muise weg, wat ook in die tuin kom vreet.
“Ek het ’n baie groen hand. Ek kan net iets in die grond sit dan groei dit. Ek het op ’n plaas grootgeword en my pa was ook ’n man wat van tuinmaak gehou het.”
Annetta sê hulle het ongelukkig al ’n paar keer vandalisme ervaar weens mense wat moedswillig plante afbreek of uitruk, maar dit ontmoedig hulle nie om die meenttuin mooi te maak nie.
“Ons kry baie mense wat hier stilhou en foto’s neem. As elkeen sy sypaadjie mooi maak, gaan ons buurt sommer binnekort mooi lyk,” sê Annetta.





