Carol Titus van Nal’ibali bring hul gelukbringer Neo die klaskamer by The Glebe binne terwyl Yolanda Hofmeester en Gerhard Afrika van Wyk van die Caledon-biblioteek geamuseerd toekyk. Regs van Neo is Winnifred Mac Master Booysen (Nal’ibali), Sybil Lee (die hoof van Theewaterskloof-biblioteekdienste) en Janine Ontong (Edulis).

Wêreldhardopleesdag, wat reeds in 2010 deur LitWord, ‘n organisasie sonder winsbejag, bekendgestel is, word jaarliks op die eerste Woensdag in Februarie in meer as 170 lande gevier om kinders en gemeenskappe deur die krag van stories te versterk.

Nal’ibali Wes-Kaap, ‘n organisasie sonder winsbejag, het reeds op Dinsdag 3 Februarie kragte met Theewaterskloof-biblioteekdienste saamgesnoer om in samewerking met die Caledon- en Tesselaarsdal-biblioteek ‘n wonderlike hardopleesprogram aan te bied.

Carol Titus van Nal’ibali noem aan Hermanus Times: “Ons bevorder lees vir genot en werk met kinders onder 12 jaar, asook met die ouers, onderwysers en gemeenskapsleiers. Ons gaan gereeld na verskeie skole en Vroeëkinderontwikkelingsentrums (VKO) om die liefde vir lees te bevorder. Dit is ons wens dat ouers sowel as kinders daarvan hou om te lees. Ons gee ook ‘n koerant uit as aanvulling en wat onder meer drie stories bevat. Dié gratis maandelikse koerantjie is tweetalig en word op aanvraag by biblioteke afgelewer waar die gemeenskap dit dan kan kry.”

Wat Dinsdag se voorlesing by The Glebe Primêr in Myddleton en by Tesselaarsdal Primêr so besonders gemaak het, ‘n Nuwe Maat, die storie wat voorgelees is, oor gebaretaal gehandel het.

Suid-Afrikaanse gebaretaal (SAGT) is op 19 Julie 2023 as Suid-Afrika se 12de amptelike taal verklaar. Nal’ibali het in samewerking met SLED (Sign Language Education and Development) ‘n storie geskep waarin SAGT gebruik word. Die storie is in al 12 amptelike Suid-Afrikaanse tale beskikbaar.

Gerhard Afrika van Wyk, Yolanda Hofmeester en Sheila Watson, personeellede van die Caledon-biblioteek, het dié pragtige storie by The Glebe Primêr voorgelees en ook van die gebare wat in die storie voorkom, uitgebeeld en verduidelik.

Die Tesselaarsdal-biblioteek het hulle hardopleesdag by Tesselaarsdal Primêr aangebied. Anja Hamman het die storie voorgelees en ‘n groep leerders en van die biblioteekpersoneel het die storie pragtig in gebaretaal uitgebeeld. ‘n Kartonbus wat die kinders in die storie na die natuurreservaat geneem het, het die leerders telkens laat uitbars van die lag – dit was storieuitbeelding op sy beste.

Sybil Lee, die hoof van Theewaterskloof-biblioteekdiens, het aan die leerders verduidelik wat gebaretaal is en dat dit nou een van Suid-Afrika se amptelike tale is.

Titus en haar kollega Winnifred Mac Master Booysen het by al twee skole ‘n vrolike interaktiewe ysbreker aangebied, wat die leerders sommer dadelik lus gemaak het om na die storie te luister. Janine Ontong, Edulis (Education Library Information Services) se vakadviseur, het ook by die skole oor die verskillende soort biblioteke (openbare- en skoolbiblioteke) wat ‘n mens kry, gepraat en die belangrikheid van biblioteke verduidelik.

Graad-R-leerders van Swartberg Primêr luister aandagtig na Gerhard Afrika van Wyk en Yolanda Hofmeester van die Caledon-biblioteek voordat die storie hardop voorgelees word.
“Fluit-fluit, ons storie is uit!” Neo neem Carol Titus, Sybil Lee en Janine Ontong huis toe ná ‘n besige oggend se hardoplees by Tesselaarsdal Primêr.
“Wie wil vir Neo ‘n drukkie gee?” vra Carol Titus aan opgewonde leerders van Tesselaarsdal Primêr. Foto’s: Mitzi Buys

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article