Vir kinders om onderrig te ontvang, is ’n reg en nie ’n voorreg nie, en met klaskamers wat tot oorlopens toe vol is en skole wat nie nuwe leerders kan inneem nie, het die Hoërskool Grabouw ’n mylpaal bereik toe hy op 23 Mei die eerste keer ’n graad R-klas vir Afrikaanse en Engelse leerders bekendgestel het.
Die waarnemende skoolhoof van die Hoërskool Grabouw, Ralston Parnell, sê hy is dankbaar vir die nuwe toevoeging tot die skool en voeg by dit sou nie kon gebeur het sonder die 10-jaar-verbinding wat die skool met SOS Africa het nie.
“Ons by die Hoërskool Grabouw is nie net dankbaar vir die skenking van SOS Africa om die graad R-klasse moontlik te maak nie, maar ook vir hul betrokkenheid die afgelope 10 jaar by die skool. Die verbintenis wat SOS Africa het om minderbevoorregte kinders se lewensgehalte te verbeter en hulle ook opvoeding te gee, is prysenswaardig. Dit is vir ons ’n voorreg om deel van die organisasie te wees wat nie net die skool nie, maar ook die hele gemeenskap ophef,” het Parnell gesê.
Wat die gebeurtenis nog meer uniek gemaak het, is dat SOS Africa se stigter, Matt Crowcombe, die eer gehad het om by die amptelike opening van die nuwe graad R-klasse die lint te knip.
“Die bekendstelling van ’n Engelse graad R-klas by die Hoërskool Grabouw vir leerders van ses jaar beteken die skool gaan meer toeganklik wees vir kinders van verskillende agtergronde en kulture.
“Om gehalteonderrig aan almal beskikbaar te stel, is een van ons doelwitte by SOS Africa, en dit is waarom die gebeurtenis vir ons so belangrik is,” het hy gesê.
Die Hoërskool Grabouw is volgens Crowcombe ook die eerste Wes-Kaapse skool waarby SOS Africa betrokke geraak het. “Ons is al van 2014 af by die Hoërskool Grabouw betrokke en danksy die sukses wat ons al hier bereik het, het ons 12 ander skole onder ons vlerk geneem en borg ons 107 leerders oor die provinsie heen.
“SOS Africa se opvoedkundige sentrums verskaf ook aan honderde leerders gratis lees- en skryfprogramme,” het Crowcombe bygevoeg.
Die heuglike gebeurtenis is deur die onderwysers, beheerliggaam, verteenwoordigers van die Overberg-distrik se onderwysdepartement en ouers bygewoon.




