Die stil dorpie Botrivier is deesdae die teiken van gewapende rowers.
Vanmiddag het verdagtes hulle rieme styfgeloop toe die polisie hulle gevang het nadat hulle minstens twee winkels in Fase 2 in Botrivier beroof het. Volgens ‘n gemeenskapsleier was die gewapende rowers op pad na Midnight Cash Store, ook in Fase 2 toe die polisie toegeslaan het. “‘n Winkel in Fase 2 is beoof en op pad na Midnight Cash Store Store het die polisie drie verdagtes vasgekeer,” het die gemeenskapsleier vertel. Een is in Succession One-laan aangekeer terwyl die ander twee op die N2 by die Hermanus-afrit vasgekeer is nadat hul motor in ‘n sloot beland het.”
Saterdagmiddag was daar ook ‘n gewapende roof by ‘n sjebien in Fase 2. Volgens die gemeenskapsleier is nie net die sjebien nie, maar ook die gaste van hul selfone en konant beroof. “Dit was laat middag toe die gewapende rowers die sjebien binnegekom het, die gaste gedwing het om hul selfone en kontant aan hulle te gee en die winkel ook beroof,” volgens die gemeenskapsleier.
Inwoners is bekommerd oor die toenemende misdaad in die omgewing en is van mening dat dit nie net die gewapende rooftogte is wat hulle aande wakker hou nie, maar gewone diefstal wat besig is om hand uit te ruk. “Dit voel vir my deesdae of die skelms helder oordag toeslaan. Fietse, televisies en selfone word daagliks gebuit. Dit is onaanvaarbaar. Daar is definitief te min polisiebeamptes in ons dorp om ons te beskerm. Daar moet ook meer sigbare polisiëring wees,” het bekommerde inwoners gesê.
Teen die tyd wat die berig geplaas is, was die formele verklaring van die polisie nog nie beskikbaar nie. Meer inligting oor die rooftog sal bygevoeg word sodra die polisie terugvoering gee.




