’n Vrou in haar 80’s is in die hospitaal opgeneem en haar vriendin erg getraumatiseerd gelaat nadat drie mans hulle vasgebind en beroof het.
Die aanval het Woensdag 23 Augustus op Klein Sandfontein-plaas langs die N2 tussen Caledon en Riviersonderend plaasgevind.
Die twee vroue, onderskeidelik 84 en 86 jaar oud, het omstreeks 21:00 televisie gekyk toe die drie mans, gewapen met bakstene en skroewedraaiers en met klapmusse oor hul gesigte, hulle aangeval het.
Die vermoede bestaan dat die rowers deur ’n deurflap vir die honde toegang tot die huis verkry het. Die aanvallers het onder meer ’n selfoon-herlaaier se koord en ’n hond se leiband gebruik om die vroue vas te bind.
Kapt. Pieter de Kock, die waarnemende bevelvoerder van die Caledon-polisie se speurtak, sê die 86-jarige vrou is met wonde aan haar gesig in die hospitaal opgeneem.
Die rowers het met juwele, drie plasmaskerm-televisies en geld weggekom.
“Die plaasgemeenskap sowel as Lourens Theron van Afriforum Alfa-buurtwag het vinnig ingespring om te help. Een van die televisieskerms is naby die N2 gevind.
“Theron het met sy hommeltuig gehelp en die verdagtes is teen die berg opgemerk, maar het weens die ruwe terrein daarin geslaag om weg te kom. Die vermoede bestaan dat ’n voertuig hulle later opgelaai het. Die polisie het patrollies op die N2 gery, maar die verdagtes is steeds op vrye voet. Verskeie leidrade word opgevolg,” het De Kock gesê. Geplunder
Die slagoffer se dogter, Beverli Katz, het op Facebook geskryf: “So, dis waar. Die Katz-familie van Klein Sandfontein het ook nou deel geword van die misdaadstatistieke vir plaasaanvalle.”
Sy het bygevoeg dat hulle gelukkig is dat dit nie ’n “plaasmoord” was nie.
Volgens Katz was hulle binne twee minute nadat haar seun haar van die aanval ingelig het, op die toneel, waar sy haar ma bewusteloos en in ’n plas bloed aangetref het.
“Hulle het my ma vasgebind met opgeskeurde lakens, haar brose hande met ’n selfoon-herlaaier se koorde agter haar rug vasgemaak, haar voete so styf vasgebind en haar mond toegebind en haar van die bed af gegooi terwyl hulle my tannie se kamer geplunder en haar ook vasgebind het,” het Katz vertel.
Katz het die polisie, Agri Patrol, die Caledon-ambulansdiens en die personeel van Mediclinic Hermanus vir hul hulp en bystand bedank. . Die polisie ondersoek nog ’n rooftog in Botrivier waar ’n vrou met ’n pistool teen die kop geslaan en beseer is. Dié voorval het Donderdag omstreeks 15:20 by Botrivier Supermark plaasgevind.
Volgens De Kock het vyf mans, van wie een met ’n vuurwapen gewapen was, die onderneming binnegegaan en die kassier met die vuurwapen gedreig.
“Hulle het toe agter die toonbank ingegaan en sigarette en geld gesteel. Die gewapende rower het na bewering ’n vrou wat in die winkel was, met die vuurwapen teen die kop geslaan. Sy het later mediese sorg ontvang. Die verdagtes het na bewering te voet in die rigting van die informele nedersetting gevlug.”
De Kock het bevestig dit is die derde sakerooftog in ’n kort tydperk in Botrivier. Die moontlikheid dat al die voorvalle verbind kan word, sê hy, word ondersoek. . Enigeen met inligting oor die voorvalle word gevra om De Kock by 079 893 9903 of AO Victor Hugo by 079 893 9901 te kontak.




