Die 24-jarige Caitlin Fourie is passievol oor volhoubare groenteverbouing en kon onlangs met haar eerste groot pikantrissie-oes (peppadew) spog.
Caitlin woon die afgelope 10 jaar in Genadendal en het haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Emil Weder voltooi. Sy het onlangs ‘n jaar lange leerlingskapprogram in volhoubare produksiebeplanning en boerdery aan die Exodus-akademie voltooi, waarna sy die praktiese deel van die program moes uitvoer. Hiervoor het Exodus haar van ‘n groot hoeveelheid pikantrissie-plantjies voorsien, wat Caitlin op haar kêrel se stuk grond geplant het.
Toe die pikantrissies gereed was om te oes, was Caitlin effens oorweldig en het sy nie eintlik geweet wat om met so ‘n groot opbrengs te maak nie. “Ek het navorsing daaroor gedoen en Marshall Rinquest van Greyton het die voorstel gemaak dat ek van hulle inlê.”
Marshall het geen bekendstelling nodig wanneer dit by volhoubare organiese verbouing van groente kom nie. Hy is betrokke by verskeie suksesvolle programme en verkoop gereeld van dié programme se groente by die mark in Greyton. Marshall was baie opgewonde toe hy Caitlin se pikantrissies gesien het. Hy sê dis van die mooistes wat hy nog onder oë gehad het.
“Ek het vir Caitlin potjies gekoop en etikette gemaak sodat sy kan begin inlê en ook 70 kg van die pikantrissies gepluk en dit vir haar by die mark verkoop. Basies help ons haar nou om die groentetuin uit te brei en somergewasse soos pampoen, botterskorsies, wortels en skorsies te plant,” sê Marshall.
“Wat vir my belangrik is, is dat sy nou ‘n rolmodel kan wees vir ander jong vroue in Genadendal. Sy is nou baie opgewonde oor die projek, want sy het nog nie voorheen ander gewasse geplant nie,” sê Marshall.
Oor Marshall se betrokkenheid en mentorskap sê Caitlin: “Ek het Marshall altyd by die mark gesien en toe ek hom om hulp gevra het, het hy dit onmiddellik aangebied. Hy het my storie op sy Facebookblad gedeel en dit het my baie gehelp om van die pikantrissies te verkoop.
“Ek is so dankbaar vir die hulp wat ek van hom kry.” Caitlin sê sy het nou rooikool en spinasie geplant en daarna kom die somergewasse. “Dit is maar nou die begin en ek het nog baie om te leer, maar ek het ‘n passie hiervoor en dit is gewis wat ek wil doen.”





