Wanneer ’n jong, lewenslustige mens onverwags sterf, laat dit die familie, vriende en gemeenskap met ’n gevoel van ongeloof, skok en hartseer.
Johan van Biljon (46), ’n bekende en geliefde inwoner van Caledon, is onverwags op Maandag 3 Julie oorlede, en het presies dié emosies by sy familie, sy groot vriendekring en kliënte ontketen.
Johan, ’n plaaslike internetverskaffer, is op 27 Oktober 1976 in Bloemfontein gebore. Sy laerskooljare het hy in Windhoek, Namibië, voltooi, waar die gesin toe gewoon het. Ná hul terugkeer na Suid-Afrika was Johan in Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch, asook in die Hoërskool Overberg in Caledon, waar hy sy laaste twee skooljare deurgebring het. Ná skool het hy nog twee ekstra vakke geneem en gedurende dié jaar ook rekenaars gebou, voordat hy sielkunde aan die Universiteit van Kaapstad studeer het.
Ná sy studies is hy vir twee jaar oorsee waar hy onder meer op ’n kibboets in Israel gewoon het, asook in Wallis. Terug in Suid-Afrika het hy en ’n vennoot ’n suksesvolle coffee lounge in Kaapstad gehad, waarna Johan en sy ma, Stella Stofberg, ’n eiendomsagentskap in Caledon bedryf het. Johan het ’n liefde vir tegnologie gehad en gedurende dié tyd het hy ook gehelp by die heel eerste WiFi- verskaffers.
Johan het ’n wye belangstellingsveld gehad en was welbelese. Sy ma noem dat hy as tiener feitlik die Caledon-biblioteek deurgelees het. “As ons hom wou terg het ons hom die British Encyclopedia genoem,” sê sy ma. Toe die internet beskikbaar geraak het, was hy in sy element, want hier kon hy sy nuuskierigheid bevredig.”
Johan was ’n omgeemens wat alle mense met deernis en respek behandel het, ongeag stand of sosiale status.
Sy voete was plat op die aarde en hy het nie in vertoon van welvaart belanggestel nie. Hy het ’n besonderse liefde vir ouer mense gehad en kon land en sand met hulle gesels. Dit is dus nie verbasend dat sy oupa aan moederskant een van sy rolmodelle was nie.
Die natuur het vir Johan na aan die hart gelê en hy was gereeld op die omliggende berge om die torings te inspekteer.
Hy was ’n gesinsmens en het dikwels oor naweke met sy vrou en dogters gaan kampeer.
Peter Stofberg, Johan se broer wat in Kanada woon, sê: “Hy het ’n groot omgeehart gehad, was altyd positief met ’n glimlag op sy gesig.”
Sarel Maree, Johan se sakevennoot en jare lange vriend, sê: “Een van sy mees kenmerkende eienskappe was sy kalmte. In hierdie bedryf kan daar baie curve balls wees.
“Wanneer daar ’n probleem was, was dit altyd asof hy reeds ’n plan gehad het. Hy was rustig en het presies geweet hoe om die probleem op te los. Hy laat ’n verskriklike groot leemte agter.” Johan word oorleef deur sy vrou Gené, hul drie dogters, sy ma Stella Stofberg en broers Peter, André en Stefan Stofberg.
’n Byeenkoms ter viering van Johan se lewe is Saterdag 15 Julie by die Caledon-gholfklub gehou.





