Hélene Viljoen, ’n bekende en geliefde inwoner van Caledon, is op 23 Mei ná ’n lang kankerstryd oorlede.
Hélene, wat op 30 Desember 1951 in Caledon as ’n nooi Du Toit gebore is, het haar skoolopleiding in haar geboortedorp ontvang.
Sy het vir baie jare by die Caledon-biblioteek gewerk, waar sy veral ’n groot invloed op kinders se lewe gehad het deur hulle te help met navorsing vir take en ook om ’n liefde vir lees te kweek.
Colene van Graan, Hélene se dogter, sê: “My ma was ’n groot liefhebber van lees en algemene kennis. Dit was vir haar ’n absolute plesier om só baie jare in die biblioteek te werk en om gereeld met so baie mense in aanraking te kom. Dit was vir haar baie hartseer toe sy op 65 moes aftree.
“My ma was ’n ongelooflik sterk mens. Sy moes baie dinge op haar eie doen nadat my pa op ’n jong ouderdom oorlede is. Sy was baie onafhanklik, en hoewel sy so siek was, het sy tot op die bitter einde nog op haar eie gewoon, totdat sy die laaste maand of wat in Heidehof was. My ma het my geleer ’n mens moet trots hê in jou werk,” sê Colene. “Ons het dikwels gesê ‘I feel very Olympic today’, bedoelende jy moenie terugstaan vir enigiets nie, al is dit buite jou gemaksone.”
Hélene was ook ’n kranige gholfspeler en was in ’n stadium die vrouekaptein van die Caledon-gholfklub. Later het sy ook rolbal gespeel, wat sy baie geniet het.
“Tannie Hélene was vir my soos ’n tweede ma,” sê Gerhard van Wyk van die Caledon-biblioteek. “Ons was baie na aan mekaar en ek ken haar al van kleintyd af, want my mammie, Anna, was vir baie jare haar huishulp. Sy was ’n dierbare siel en het ’n wonderlike menseverhouding met ’n ieder en ’n elk gehad. Ons het agt jaar saam in die biblioteek gewerk en ek het so baie by haar geleer. Ek het gehou van lees, maar deur tannie Hélene se leiding het ek ’n ware liefde vir lees ontwikkel,” sê Gerhard.
“Sy was so welbelese en het ’n fenomenale algemene kennis en woordeskat gehad. Ek het selfs ná haar aftrede in 2017 gereeld by haar gaan kuier. Haar deur was altyd oop en ek kon enigiets met haar bespreek. Sy het my veral ná my mammie se afsterwe bygestaan. Sy het altyd gesê: ‘Doen ’n ding reg en staan vir dit waarin jy glo’.”
Hélene word oorleef deur haar suster, Yvonne Pretorius, haar dogter, Colene van Graan, en twee kleindogters.
Hélene se begrafnisdiens was Saterdag 3 Junie in die Wes-kerk in Caledon.





