Nasionale Kinderbeskermingsweek word elke jaar gehou om bewusmaking oor kinders se regte en veiligheid te skep.
Die Napier-polisie het dié projek ter harte geneem en met verskeie organisasies in die dorp kragte saamgesnoer om verskeie kleuterskole en skole gedurende Kinderbeskermingsweek, wat van 29 Mei tot 5 Junie gehou is, te besoek en kinders bewus te maak van wat hulle kan doen om hulself te beskerm.
Van die organisasies wat by Kinderbeskermingsweek betrokke was, sluit in die Napier-gemeenskapspolisiëringsforum, die polisie se geestelikemisdaadvoorkomingsgroep, Men for Change, Women’s Network en Elpida Foundation.
Verteenwoordigers van die onderskeie organisasies het verlede week praatjies by Kammaland, Haasbekkies en die Nuwerus-nasorgsentrum sowel as Protea Primêr en die Agulhas-vaardigheidskool gelewer.
Die kinders is geleer oor hul onderskeie liggaamsdele, dat niemand sonder hul toestemming aan hul liggame mag vat nie en by wie hulle kan aanmeld indien iemand hulle mishandel.
Skenkings wat ontvang is, is gebruik om klein geskenkpakkies met onder meer opvoedkundige pamflette, lekkergoed, inkleurboeke en -potlode aan die kinders uit te deel.
Die maatskaplike werkers Carmen Jagers van Elpida Foundation en konst. Shinaz Piek het met die ouer kinders by Protea Primêr en die Agulhas-vaardigheidskool gesels oor kinders se regte en verantwoordelikhede en hul gedrag. AO Cobus Jafta, die Napier-polisie se waarnemende stasiebevelvoerder, het die rolspelers vir hul bydrae tot die suksesvolle projek bedank.





