Die Hermanus-tak van Helpende Hand bied op 22 Junie ’n eerste spoednetwerk-geleentheid in Hermanus aan. Dit word van 09:00-11:00 by die Grobbelaarsaal in Hermanus aangebied.
Alle organisasies sonder winsbejag, sielkundiges, terapeute, lewensafrigters en ander belangstellendes word genooi om die geleentheid by te woon.
“Dit het deur middel van ons navorsing in die gemeenskap duidelik geword dat ’n groot behoefte aan so ’n geleentheid bestaan,” sê Alet Coetzee, die voorsitter van Helpende Hand in Hermanus.
“Tydens hierdie geleenthede word netwerke gebou en raak almal bewus van die sakeondernemings, geleenthede en behoeftes wat in die gemeenskap bestaan.
“Organisasies en individue het mekaar nodig om sterker netwerke in ons gemeenskappe te bou.
“Wanneer ons as vennote hande vat om dieselfde behoeftes van ander aan te spreek, het ons ’n groter invloed op die gemeenskap en ploeg ons ook in die positiewe funksionering van gemeenskappe terug.”
Die oggend sal gelei word deur dr. Shanie Boshoff van Gropotential, wat grondige kennis en wenke deel om netwerkuitbreiding te bewerkstellig.
Kaartjies is beskikbaar by www.quicket.co.za teen R100 per persoon. Kontak Mariëtte Roos by marietteroos@helpendehand.co.za vir nog inligting.




