Hermanus is nie net die 18de gewildste bestemming in die wêreld en het die Bioblitz-kompetisie gewen nie, maar die Hermanus Helpende Hand-tak is pas as die Wes-Kaapse Tak van die Jaar aangewys.
“Dit was vir ons ’n groot verrassing dat ons as die wentak aangewys is. Ons fokus daarop om volhoubare projekte in die gemeenskap aan te pak, en kan dit net suksesvol doen deur die hulp van ons vrywilligers en taklede,” het Alet Coetzee, voorsitter van die Hermanus-tak, gesê.
Die Hermanus-tak het sy eerste takvergadering vir die jaar op 18 Januarie gehou en dié tak is trots daarop dat hy nog drie studente met studielenings kon help.
“Hierdie studente kan hul studies in onder meer argitektuur, ’n BSc-graad in lewenswetenskappe en film- en televisiewerk danksy die Hermanus Helpende Hand-studiefonds voortsit,” sê Coetzee. “Sodoende maak ons ’n volhoubare verskil in die lewe van jongmense wat hulself toerus met kennis en hopelik hul kennis in die toekoms in die gemeenskap sal terugploeg.”
Die tak fokus ook verder op gemeenskapsprojekte wat deur die gemeenskap en in die gemeenskap gedoen word.
“Die klem word veral gelê op bejaardes, kinders, mense met gestremdhede sowel as die gesinne van hierdie mense,” sê sy.
Volgens Coetzee is die tak afhanklik van aktiewe lede wat hul gewig by die werksaamhede van die tak ingooi.
“Ons het altyd gewillige hande nodig. Hierdie jaar is die tema van Helpende Hand ‘Hier is my hand’, en ons wil graag die hand uitsteek na die gemeenskap en ook saam hande vat om volhoubare projekte in die gemeenskap aan te bied.”. Enigiemand wat belangstel om meer inligting van Helpende Hand in Hermanus te ontvang of wil uitvind hoe om betrokke te raak, kan die voorsitter van die tak, Alet Coetzee, by aletyho@yahoo.com kontak.




