Efenisdag word sedert 1995 jaarliks op 24 September gevier. Dié openbare vakansiedag was voorheen bekend as Shaka-dag, ter ere van dié Zoeloeleier wat op 24 September 1828 gesterf het.
Op Erfenisdag word kultuur en geskiedenis onthou en dis ‘n dag waar elkeen sy kultuur, diversiteit en tradisies kan vier. Hierdie dag is ook bekend as Nasionale Braaidag en hoewel die Nasionale Erfenisraad in 2005 sy goedkeuring gegee het om dit so te noem, is en bly die amptelike benaming Erfenisdag.
Die Caledon-museum het sy eerste opedag op Erfenisdag gehou. Besoekers kon rustig op begeleide toere deur die museum asook die Viktoriaanse huis gaan. Georgina Simons, wat die museum op dié dag saam met vriendinne besoek het, sê: “Hoewel ek in Caledon woon, was dit die eerste keer dat ek die museum besoek het. Dit was baie interessant om die geskiedenis en rykdom van Caledon te sien – die ontstaan van Caledon en hoe dinge met die verloop van tyd verander het.
“Ek en my vriendin Rhona Julies het ‘n heerlike verrassing gekry toe ons ‘n foto van die personeel van Swartberg Primêr daar sien. Ek was toe nog ‘n nooi Speelman en Rhona was die sekretaresse van die skool. Ook die foto’s van die Progress-rugbyklub en die gholfspelers was interessant. Ek beveel dit ten sterkste aan dat mense die museum besoek om die foto’s van hul voorsate te sien.”
Die Caledon-biblioteek, in samewerking met die departement van kultuur, kuns en sport, het ter viering van Erfenisdag inheemse speletjies in die Caledon-veldblommetuin aangebied. Emoji Movement en die Caledon-brandweer het ook gehelp en verskeie speletjies met die kinders gespeel.
Daarna het Rolandez Dramat van die Caledon-brandweer die kinders vertel wat Erfenisdag beteken en genoem die Veldblommetuin waarin hulle so lekker gespeel het, is ook deel van hul erfenis en moet vir die nageslag beskerm en bewaar word. Dramat het ook die veiligheidsaspekte om ‘n braaivleisvuur bespreek. Soos dit op Braaidag hoort, is die kinders hierna met ‘n lekker boereworsrolletjie bederf. Gerhard Afrika-Van Wyk van die Caledon-biblioteek het gesê die dag was baie suksesvol en 56 kinders en talle ouers het deelgeneem.








You must be logged in to post a comment.