’n Ondersoek is van stapel gestuur nadat ’n man gesterf het terwyl hy in ’n sel by die Caledon-polisiekantoor aangehou is.

Kol. Joe Hartnick, die waarnemende bevelvoerder, het bevestig beamptes van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdi­rek­­toraat (Opod) het ’n ondersoek na die tragiese voorval van stapel gestuur.

Volgens Hartnick is die oorledene Saterdag 4 Februarie saam met nog ’n man in ’n sel toegesluit. “Die oorledene is omstreeks 03:00 in hegtenis geneem. Polisiebeamptes het die sel omstreeks 04:00 besoek om te kyk of alles nog in orde is. Hulle het omstreeks 04:28 weer gaan ondersoek instel nadat hulle harde geluide uit die selle gehoor het,” het Hartnick gesê.

Die oorledene en sy medegevangene is blykbaar weens dronkenskap in hegtenis geneem.

Die geluide wat die beamptes gehoor het, was vermoedelik dié van die jonger man wat na bewering sy medegevangene se kop herhaaldelik teen die muur gestamp het.

“Die ouer man het ongelukkig op die toneel aan sy beserings beswyk,” het Hartnick vertel.

Lizzy Suping, Opod se woordvoerder, het bevestig die voorval is aanvanklik deur dié eenheid ondersoek. “Ná die voorlopige ondersoek is die saak aan die polisie oorhandig aangesien die aangehoudene se dood deur ’n medegevangene, en nie die polisie nie, veroorsaak is,” het sy verduidelik.

Kol. Hartnick het bevestig die 22-jarige man wat saam met die oorledene in die sel aangehou is, is van moord aangekla.

“Hy het verlede Maandag (6 Februarie) in die Caledon-landdroshof verskyn.

“Die saak is tot 14 Februarie vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.”

Die uitslag van die borgtogaansoek was teen druktyd nog nie bekend nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article