Die Fÿfer-familie, wat hul herkoms tot 1755 kan naspoor, het onlangs op Kleinmond ’n feestelike familiesaamtrek gehou.
Meer as 40 Fÿfers het vanaf 7-9 Julie vir die eerste Fÿfer-familiereünie in 50 jaar bymekaargekom. Philip Fÿver vertel die oudste familielid by die geselligheid was die 85-jarige Wilma Fÿfer en die jongste die eenjarige Nielene-Louise.
“Daar was baie geëet en gesels en na ou staaltjies geluister,” vertel Philip. “Die Fÿfer-Boys-orkes het musiek gemaak terwyl die familie na foto-uitstallings gekyk en baie herinneringe gedeel het.”
Hannetjie en Boy Fyfer en Louise van Eeden het die gesellige geleentheid gereël.
Dié familie stam van Johannes Jos Fÿfer af wat in 1775 as soldaat van Hessen-Damstadt in Duitsland na die Kaapse Kolonie gekom het om as soldaat in Riviersonderend diens te doen. Sy seun Johannes het in die 1820’s in Swellendam geboer. Sy seun Daniel Francois het daarna in 1849 op Paardevlei in Villiersdorp begin boer.
Sy seun, wat ook Daniël Francois genoem was, en sy vrou Miemie (gebore Hamman) het tot 1945 op Tierkloof tussen Caledon en Greyton geboer waarna Philip Fÿfer tot 1965 op die familieplaas, Tierkloof, geboer het.
Daar was ook Fÿfers wat op Mierkraal by Riviersonderend en Adamsfontein by Malmesbury geboer het. Danie Fÿfer boer nog steeds op Pokkieskraal naby Greyton.
“Die saamtrek was ’n groot sukses en nuwe familiebande is gesmee,” vertel Philip.





