SALDANHA – Al is dit meer as twee jaar sedert Joshlin Smith vermis geraak het, hou die gemeenskap van Saldanha steeds hoop dat sy eendag gevind sal word.
Joshlin, wat op 24 Februarie 2024 as vermis by die Saldanha-polisiekantoor aangemeld is, was ses jaar oud toe sy verdwyn het. Op Vrydag 23 Oktober het Diazville Primêr, waar sy ’n leerder was, haar negende verjaardag gevier om te wys dat sy steeds deel van die skoolfamilie is.
Die geleentheid is deur die skool se graad 3-leerders, Joshlin se peetouers en ander ondersteuners bygewoon.
Lee-Ann Davids-Hartzenberg, skoolhoof, het gesê Joshlin bly in hul harte en gedagtes en dat hulle aanhou hoop en bid dat die waarheid eendag aan die lig sal kom.
Sy het die leerders herinner dat elkeen se lewe waarde het en dat alle kinders kosbaar is en liefde, beskerming en ’n veilige omgewing verdien.
Tydens die byeenkoms is ’n boom ter ere van Joshlin geplant, asook as ’n simbool van hoop vir elke leerder. ’n Kruis is ook opgerig om hoop en liefde te simboliseer.

“Mag dit ons herinner om nooit op te hou om vir mekaar om te gee nie, mekaar te ondersteun en altyd hoop te koester,” het Davids-Hartzenberg gesê.
Die skool het ook sy ondersteuning getoon deur geel te dra.
Die dag was nie net ’n herdenking van Joshlin se verjaardag nie, maar ook ’n spesiale geleentheid vir die skoolgemeenskap om haar te eer.
Natasha Andrews, Joshlin se grootmaakma, het gesê dit is ’n riem onder die hart om te sien hoe die skool Joshlin steeds onthou en eer.
“Dit help vir ons baie om deur die dag te kom. Joshlin het vir my in graad R gevra om vir haar kolwyntjies te maak en ’n klaspartytjie te hou. Sy was so opgewonde daaroor dat ek dit steeds sal doen,” het Andrews vertel.
Volgens Andrews bly die familie hoopvol en sal hulle nie hoop verloor nie.
“Ons is nog hoopvol en sal nooit hoop verloor nie, totdat daar op swart en wit bewyse is dat Joshlin nie meer met ons is nie. Ons sal altyd bly glo dat sy wel eendag ’n verskyning sal maak,” het sy gesê.
LEES OOK HIER: Diazville Primêr nog teer oor Joshlin, herdenk haar verjaarsdag





You must be logged in to post a comment.