Die een span het nog net een wedstryd tydens die Sanlam-Boland-Top12-Grootuitdaagreeks verloor en die ander span verras vriend en vyand week na week met goeie spel.
Maar more pak die twee spanne mekaar in ‘n derby-wedstryd en dit beloof rugby uit die boonste rakke te wees.
Die voorlopers van die Overberg, Hawston Skrik vir Niks speel teen Atlantics. Die wedstryd wat op die Hawston-sportterrein (Die Bos) gaan plaasvind, gaan baie reaksie en voete lok.
Die wedstryd het selfs die Overstrand-burgemeester opgewonde en hy nooi almal om die wedstryd in goeie gees te gaan bywoon. Die twee raadslede van die wyke, Ronald Nutt (Atlantics) en Arnie Africa (Hawston) sien ook met groot opgewondenheid uit na die dag.
Volgens die kaptein van Atlantics Lionel April sien hy baie uit na die tweede plaaslike derby tussen Hawston en Atlantics. “Ek voel excited vir die tweede groot derby, selfs kalm vir die storm wat voor ons is, maar gefokus op die taak wat op hande is,” het April opgewonde vertel.
Branden Hunter, kaptein van Skrik vir Niks vertel dat die gees baie hoog is vir more se wedstryd teen Atlantics. “Al die hardewerk en bloedsweet kom alles neer op more , ons kort ‘n bonuspunt-wen en dan word ons as die ligakampioene van 2026 gekroon. Ons sien uit om dit voor ons tuisskare te doen. Laastens wil ek die Skrik vir Niks-ondersteuners nooi om more die wedstryd te kom bywoon, want dit beloof om ‘n goeie wedstryd te wees,” aldus Hunter.
Hekke is al van vroeg af oop en ondersteuners word genooi om deel van die tweede derby tussen die twee spanne te wees. Moenie die geleentheid misloop nie.


