Die Caledon-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) het hul 2026-program op ‘n feestelike noot afgeskop deur ‘n teepartytjie vir lede en gaste op 5 Januarie aan te bied.
Die jaarprogram is bespreek terwyl heerlik gesmul is aan al die lekkernye. Dit was ook ‘n kans vir gaste om die VLV-lede te ontmoet. Dié teepartytjie het gewis ook vrugte afgewerp aangesien agt nuwe lede het by die Caledon-tak aangesluit het.
Die eerste formele byeenkoms vir die jaar is Donderdag 5 Februarie gehou. Tydens die opvoeding-en-kultuur-vergadering het Anthony Hawke ‘n baie insiggewende praatjie oor Noorweë gelewer. Ter inleiding het Anthony ‘n interessante oorsig oor die Noorweegse geskiedenis gegee oor wie wanneer en vir hoe lank beheer oor dié land gehad het. Hy het ook verduidelik watter katastrofiese impak die “Swart Dood” (builepes) op hierdie land met sy klein bevolking gehad het. Noorweë het op 7 Junie 1905 volle, onafhanklike soewereiniteit verkry.
Anthony het 40 jaar – van 22- tot 62-jarige ouderdom – in Noorweë gewoon en gewerk. ‘n Interessante feit is dat ‘n mens die Noorweegse taal heeltemaal moet bemeester voordat jy enigsins vir werk in aanmerking kan kom.
Noorweë is ‘n land met ‘n klein bevolking en identiteit, tradisie, taal en veral kultuur is baie belangrik. Noorweërs is onlosmaaklik verbind met landelike gebiede en almal het oorspronklik van plaasgemeenskappe gekom, het Anthony gesê.
Handwerk, wat wissel van van houtwerk, weef, tradisionele drag, breiwerk en dekoratiewe verfwek vervul ‘n baie groot rol in Noorweërs se lewens. Tradisionele handwerkprodukte kombineer kulturele bewaring met moderne ontwerpe. Dié produkte is nie in kettingwinkels te koop nie en word slegs deur NCA-winkels (Norwegian Craft Association) verkoop. Die NCA is ‘n private organisasie met staatsfinansiering en kry ‘n hoë inkomste van hulle winkels.
Nasionale drag, met uitrustings wat tot R100 000 kan kos, wissel van streek tot streek en het deur die jare onveranderd gebly. Dié uitrustings word met trots op spesiale geleenthede gedra. Anthony het verskeie van sy handgebreide truie en handskoene aan die lede gewys en hulle het omtrent ge-oe en ge-aa oor die pragstukke – tereg ook, want dit was werklik besonders.
In sy praatjie het Anthony ook melding gemaak van “Rosemalin” – tradisonele volkskuns – wat sy ontstaan in die 1600’s gekry en tot 1850 gedy het. Dié volkskuns is hoofsaaklik in ou, donker huise aangebring waar die mure weens oop vure swart was van die roet. Dit het nie net die mure versier nie, maar ook die huise opgehelder.
Ná die praatjie is verskeie punte op die sakelys afgehandel. Die Caledon-tak vergader elke eerste Donderdag van die maand in die Wes-kerk saal. Bel Corrie Fogwell by 083 270 8374 vir nog inligting.





