Dié groep vroue het die Caledon- Kersmark terdeë geniet. Agter is: Elanza du Toit (komi- teelid), Jolanda Human en Lizette Kok (komiteelid). Voor is Nicolette Simonis en Tossie van Rensburg. Foto: Mitzi Buys

Die gewilde Caledon-Kersmark, wat van 27 Oktober tot 1 November in die Caledon NG kerk se saal aangebied is, was weer eens ‘n groot sukses.

Plaaslike besoekers sowel as dié van omliggende dorpe kon rustig al die produkte van die uitstallers besigtig en selfs van die kosprodukte proe. Dit was die ideale geleentheid vir vroeë Kersaankope of sommer net vir ‘n lekker bederf, want daar was produkte te kies en te keur – gewis iets vir elkeen se smaak.

Tuisgebakte koekies en beskuit, sousboontjies, skuinskoek, fudge, ingelegde produkte, mosterd en ander souse, leer-en materiaalhandsakke, juweliersware, Kersversiersels, opvoedkundige speletjies, speelgoed, skoonheidsprodukte en tuisdekor-artikels was van die produkte wat te koop aangebied is.

Die teetuin, wat ligte maaltye, tee, koffie en koek aangebied het, was weer ‘n treffer. Hier kon besoekers heerlik ontspan en mense kon ‘n ligte middagete nuttig.

Lizette Kok, wat die bemarking van die Kersmark behartig, sê: “Besoekers is baie in hul skik, want nie net is van ons ou gunsteling-uitstallers weer hier nie, maar baie nuwe uitstallers het bygekom. Soos gewoonlik het die teetuin baie goed gevaar en veral kosprodukte het goed verkoop. Oor die algemeen is ons baie tevrede met hierdie jaar se Kersmark.”

Die Vrouediens van die Caledon NG kerk bied die Kersmark aan. ‘n Groot aantal gereelde vrywilligers bied hul hulp by die kosvoorbereiding en bediening, in die uitstalgebied en by die kasregisters aan.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article