Boland-rugbyondersteuners kan nou hul spanne dophou sonder OneFan

Goeie nuus wag op rugbyondersteuners nadat dit bekend gemaak is dat wedstryde nou op die Boland-rugbyunie se YouTube-kanaal gratis uitgesaai gaan word.

Boland-rugbyondersteuners kan nou hul spanne dophou sonder OneFan

Goeie nuus wag op rugbyondersteuners nadat dit bekend gemaak is dat wedstryde nou op die Boland-rugbyunie se YouTube-kanaal gratis uitgesaai gaan word.

Die gort was behoorlik gaar toe rugbyondersteuners moes hoor hulle moet R50 betaal aan OneFan om rugbywedstryde op televisie te kan kyk.

Maar daar het so pas goeie nuus van die Boland-rugbyunie (BRU) gekom – ondersteuners kan nou die Top 12-wedstryde gratis en regstreeks op die amptelike Boland-YouTube-kanaal kyk – behalwe tuiswedstryde van Safcol wat deur OneFan uitgesaai gaan word. As Safcol die uitspeelwedstryde haal en die wedstryde word op ander velde gespeel, kan OneFan toestemming by die span en die BRU kry om die wedstryde ook op hul stromingsplatform uit te saai.

Die besluit kom nadat die BRU en Safcol in Oktober ‘n dringende hofaansoek in die Wes-Kaapse Hooggeregshof gehad het. Safcol het die hof genader om die reg te kry om sy eie borge se logo’s op truie te vertoon en om sy wedstryde op sy eie digitale platform uit te saai.

Daar is ook ‘n hofbeslissing aangevra oor die geldigheid van die diensvlakooreenkoms tussen die BRU en Boland Rugby (Edms.) Bpk., wat verband hou met wie die uitsaairegte van klubwedstryde beheer.

Reeds in Junie besluite geneem

Die onsekerheid het egter reeds in Junie begin toe die BRU OneFan as ‘n stromingsdienste en finansierigsplatform bekendgestel het. OneFan, waarvan oud-Springbok Ashwin Willemse een van die direkteurs was, sou onder meer regstreekse uitsendings, kaartjieverkope en borgskappe behartig. Willemse het hom intussen onttrek van OneFan. Boland Rugby (Edms.) Bpk., die unie se grootste aandeelhouer, het egter nog nie goedkeuring aan die projek gegee nie omdat bestaande kommersiële vennote se belange moontlik in gedrang was.

In September het die maatskappy vir die stromingsdienste van Boland-klubwedstryde ‘n prokureursbrief gestuur en geëis dat hulle nie meer kan uitsaai nie en ook ‘n volledige rekord van uitsendings sedert 2023 aangevra.

Verskeie klubs was ontevrede met die OneFan-reëling en hulle wou verdere regshulp inwin.

Skikking bereik

Intussen het die BRU en Safcol gedurende die hofverrigtinge ‘n skikking bereik waarvolgens OneFan Safcol se vyf Top 12-tuiswedstryde mag uitsaai. Die res van die Top 12-wedstryde sou op die unie se amptelike platform geskied. Dit het die weg gebaan vir die huidige reëling wat nou deur die uitvoerende komitee bevestig is.

Die BRU het bevestig dat Safcol RFC en OneFan versoek het om, ondanks die skikkingsbevel wat hulle die reg gee om op hul eie platform uit te saai, sover moontlik dieselfde normale protokol te volg as wanneer wedstryde op die unie se amptelike platform uitgesaai word.

Die uitvoerende komitee het hierdie versoek baie positief ontvang. “Die besluit volg ná deeglike oorweging van die omstandighede, asook die behoefte om te verseker dat die unie se uitsaaireëlings konsekwent, deursigtig en in ooreenstemming met die toepaslike regsvereistes toegepas word,” het die BRU gesê.

“Die BRU bly verbind tot die bevordering van rugby, die uitbreiding van toegang tot sy kompetisies, die ondersteuning van sy geaffilieerde klubs en die beskerming van die belange van die unie en sy belanghebbendes. Alle klubs, ondersteuners, borge en ander belanghebbendes word versoek om kennis te neem van die reëlings.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article