Bespiegelinge dat liggaam in water dalk die van vermiste man is

Elim Blues-rugbyklub het op Facebook die nuus oor Denzel Apollis gedeel.


Hoewel die polisie nie dadelik kon bevestig of die liggaam wat in die see by Roman Rock, Hermanus gevind is wel dié van die man van Kleinmond is wat verlede week vermis geraak het nie, het huldeblyke vir Denzel Apollis reeds op sosiale media begin instroom.

Kaptein Fadila September, woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig dat polisieduikers gister deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) ontbied is in verband met die liggaam wat in die water gedryf het.“Die liggaam is uit die see verwyder en per boot na die Nuwe Hawe vervoer,” het sy bygevoeg.

Adjudant-offisier Martin Mostert, die Kleinmond-polisie se woordvoerder, het benadruk dat die polisie nie kan bevestig of dit wel Apollis se liggaam is totdat die familie die liggaam uitgeken en geregtelike doodsondersoek ingestel is nie. ’n Grootskaalse soektog is van stapel gestuur nadat Apollis Dinsdag 4 Julie as vermis aangemeld is. Sy voertuig is die volgende oggend teen ’n helling af langs die R44 tussen Rooiels en Gordonsbaai gevind. Van Apollis was daar egter geen teken nie.

Elim Blues-rugbyklub het vanmiddag (Dinsdag 11 Julie) geskryf dat dit met “diep leedwese” is dat hulle verneem het dat Apollis se oorskot gevind is. “Ons innige medelye gaan uit aan sy eggenote Jacky, sy kinders, sy ma, broers, uitgebreide familie, wye vriendekring, kollegas en gemeenskappe van Elim en Kleinmond. Denzel of Dempie soos hy alombekend was, was ’n liefdevolle mens, vaardige vakman en kranige sportman wat diep spore in Elim Blues se geledere getrap en nagelaat het… Rest In Peace Legend, jy sal altyd in ons harte gekoester bly,” lui die inskrywing verder.

Raadslid Grant Cohen, speaker van die Overstrand-munisipaliteit, het ook op Facebook hulde aan Apollis gebring. Cohen se roerende plasing lui: “Dit is met ’n baie swaar hart dat ek dit skryf. Denzil, jy was ’n vriend en iemand na wie ek altyd opgekyk het. Jou liefde en passie vir die gemeenskap en jou bereidwilligheid om altyd betrokke te raak en te help, het altyd vir my uitgestaan…”

Kaap Agulhas-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester Paul Swart, wat ook ’n inwoner van Elim is, het ook sy medelye met Apollis se familie uitgespreek en geskryf: “Dit is hartseer. Mens verstaan dit nie, maar God bly in beheer van alles hoe bitter ook ons smart… My hart pyn vir hulle verlies.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article