Die familie van ’n bejaarde vrou wat in haar woonstel in Bredasdorp vermoor is, het ’n R20 000-beloning uitgeloof vir enige inligting wat sal lei tot die moordenaar of moordenaars se inhegtenisneming en skuldigbevinding.

Die 64-jarige Adriana Gresse se liggaam is Saterdagoggend in haar woonstel ontdek nadat ’n buurvrou onraad vermoed het omdat die veiligheidsbewuste Gresse se veiligheidshek oopgestaan het.
Die Bredasdorp-polisie is ontbied en het volgens berigte met hul aankoms op Gresse se liggaam in die spaarkamer van haar woonstel afgekom. Die afgetrede voormalige vakadviseur is vermoedelik verwurg.
Kapt. Linda Volkwyn, Bredasdorp-polisie se speurhoof, het bevestig niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie. Volgens Volkwyn word klagte van moord, huisbraak en diefstal ondersoek ten spyte daarvan dat geen teken van gedwonge toegang gevind kon word nie.
Gresse se dogter Adriana van Niekerk het aan Netwerk24 vertel haar ma is vermoedelik die Vrydagnag of vroeg die Saterdagoggend vermoor aangesien sy nog om 23:45 vir haar buurvrou ’n boodskap gestuur het.
In ’n plasing wat op sosiale media gedeel is, loof Van Niekerk ’n beloning van R20 000 uit vir inligting wat tot die moordenaars se skuldigbevinding sal lei.
Dié plasing vra mense met inligting om ’n WhatsApp-boodskap na 083 650 2293 te stuur of die nommer te skakel.
“Hopelik word hulle vasgetrek. Ons vra enigiemand met inligting om na vore te kom,” het Van Niekerk tydens die onderhoud met Netwerk24 gepleit.

