‘n Bejaarde egpaar is Dinsdag in hul huis in onrus aangeval.


’n Bejaarde egpaar wat deur gewetenlose rowers vasgebind, aangerand en van onder meer hul voertuig beroof is, is in die hospitaal opgeneem.

Die man is so erg tydens die aanval beseer dat hy in die waakeenheid opgeneem moes word. Hy en sy vrou, wat ook ernstige beserings opgedoen het, het ure lank vasgebind gelê voordat hul huishulp op hulle afgekom en alarm gemaak het. Die voorval het volgens berigte omstreeks middernag Dinsdag plaasgevind.

Die plaaslike polisie, sowel as AfriForum se Alfa-buurtwag en verskeie ander rolspelers, was gou op die toneel om dit vir enige moontlike leidrade te fynkam. Lourens Theron, van AfriForum se Alfa-buurtwag, het die polisie geloof vir hul vinnige reaksie en deeglike ondersoekwerk. “Ons is vol vertroue dat die polisie die skuldiges gou sal vastrek,” het hy bygevoeg. Theron het die aanval op die bejaarde egpaar skerp veroordeel en gesê: “Dat misdadigers weerlose ou mense kan aanval en só seermaak, laat ’n mens rooi sien.” Die rowers het volgens berigte met verskeie huishoudelike artikels sowel as hul slagoffers se wit dubbelkajuit Toyota-bakkie weggekom.

Eddie Holloway, ondervoorsitter van die Onrus-Vermont-buurtwag (OnVerWag), het bevestig dat hulle van die voorval bewus is. Volgens Holloway is daar bevestig dat twee verdagtes by die voorval betrokke was en dat hulle met die paartjie se bakkie, met die registrasienommer CEM 80, van die toneel af weggekom het.

Verskeie bronne het aan die Hermanus Times genoem die rowers is vermoedelik deel van ’n sindikaat wat vanaf Houtbaai en/of Khayelitsha bedrywig is en moontlik ook met verskeie ander soortgelyke rooftogte in die Overberg verbind kan word.

Theron berig dat buurtwaglede in ’n afsonderlike voorval omstreeks 06:00 Woensdag drie verdagtes aangekeer het wat vermoedelik vroeër by pogings tot inbrake in Rome- en Krigestraat betrokke was. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article