Ma Shirley, Ambar en ouma Maria Claasen.Foto: Mitzi Buys


Vandag (30 Augustus) word Ambar Claasen mondig, maar dit is te danke aan genade, geloof, gebed en baie liefde dat Ambar vandag dié besondere mylpaal kan vier.

Ambar is op sewe maande vroeggebore en het slegs 1,7kg by geboorte geweeg. Kort ná haar geboorte by die Macassar-daghospitaal is Ambar per helikopter na Tygerberg-hospitaal vervoer, waar dokters haar kanse op oorlewing op ’n skrale 20% gestel het.

Shirley Claasen, Ambar se ma, sê: “Sy was vir drie maande in die intensiewesorgeenheid. Ek het haar elke dag besoek. Die dokters het eintlik al opgegee met haar. Daar was baie gebedsgroepe vir haar en eendag het my oudste suster gevra om ’n gebed te doen en om aan haar te raak. Van daardie tyd af het sy baie verbeter. Selfs die gaatjie in haar hart het verdwyn.”

Toe Amber uit die intensiewesorgeenheid na ’n ander saal oorgeplaas is, het die verpleegpersoneel ’n nota aan haar wiegie aangebring wat gesê het: “Ambar benodig liefde en aandag”. Haar eerste operasie het sy ondergaan toe sy slegs 11 dae oud was. Talle ander operasies het gevolg, onder meer ’n veloorplanting op haar regterhand, wat deur naalde vir binneaarse buise erg beskadig is. Ná lang tye in die hospitaal het Ambar en haar ma by ouma Maria Claasen in Caledon kom woon toe Ambar ses maande oud was.

Haar eerste skooljaar het Amber by The Glebe in Myddleton voltooi waarna sy na ’n aanpassingsklas by Swartberg Primêr verskuif het. Hier het hulle haar geleer om met haar linkerhand te skryf, want sy kon nie haar regterhand gebruik nie. Later is Ambar vir vier jare na die Alta du Toit-skool in Kuilsrivier, waar sy in die koshuis tuisgegaan het. Met die Covid-pandemie het Ambar na Caledon teruggekeer.

Ambar is baie geheg aan haar ouma Maria en gaan gereeld saam met haar na die Oase-dienssentrum. Ouma Maria sê: “By Oase is dit vir haar soos ’n familiekring. Sy is gelukkig daar en het ook haar selfvertroue daar gekry en sy speel ook graag domino’s saam met die ander lede.”

’n Laatslaper is Ambar nie. Sy staan soggens vroeg op om vir haar koffie te maak of om ’n eier te bak en Sondae sit sy al vroeg die Bybels op die sitkamertafel, gereed om kerk toe te gaan. Soos menige jong meisie is haar gunstelingkleur pienk, maar as dit by haar haarstyl kom, is sy baie punteneurig – dit moet nét in ’n bolla vasgemaak word.

Omdat Ambar so tuis voel by Oase, het sy besluit dit is waar sy haar 21ste verjaarsdag met ’n teepartytjie wil vier.

Ma Shirley en Ouma Maria sê hulle is dankbaar vir die Here wat vir Ambar so gedra het en dat dit genade is dat sy vandag haar mondigwording kan vier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article