Toe haar seun Vrydag skool toe is, het sy nooit kon dink sy sou hom ure later bewusteloos en met ’n nekstut aan agterin ’n ambulans aantref nie – veral nie aangesien sy die vorige aand ’n skoolbeheerliggaam-vergadering bygewoon het waar ’n voorval waarin haar seun die vorige week byna met ’n mes raakgesteek is, bespreek is nie.
Joslin Gillion vertel sy was histeries toe sy Vrydag (23 Februarie) ’n oproep van die skool gekry het aangesien sy “die ergste” verwag het.
“Toe ek hoor dis die skool, het dit gevoel ek raak van my kop af, want ek het gedink hulle bel om te sê my kind is dood – veral ná die messtekery die vorige week,” vertel sy.
Sy het haar na die Hermanus-hospitaal gehaas waar die ambulans met haar seun Quwinn Hess (15) reeds stilgehou het.
Hy is van daar na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas, waar hy ’n skandering ondergaan het.
“Hy het by die hospitaal in Hermanus bygekom, maar was erg deurmekaar.
“Toe hy in Tygerberg bykom, was sy eerste woorde: ‘Mammie, ek wil nie teruggaan na daai skool toe nie’.”
Van die voorval wat in ’n klaskamer by Hawston Sekondêr afgespeel het, sê Joslin, kan haar seun nie veel onthou nie.
Die aanvaller het Quwinn na bewering onder meer “om- gedop op sy kop”.
Die aanvaller het Quwinn na bewering ook verskeie kere teen die kop geskop terwyl hy hulpeloos op die vloer gelê het.
Volgens Joslin het die voorval in die teenwoordigheid van ’n onderwyser plaasgevind.
“Ek voel die onderwyser het my kind gefaal.
“Ek voel die beheerliggaam, die onderwysers en die hoof, wat niks ná die messtekery gedoen het nie, het my kind gefaal.
“Ek is só teleurgesteld in die skool, want niemand van die skool het my sedert die voorval gekontak om te vra of my kind oukeiis nie,” het Joslin Sondagaand gesê.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) berig die onderwyser het wel die aanval probeer stopsit.
“Die WKOD ondersoek die voorval,” lui ’n verklaring van die departement.
Volgens Joslin word haar stil en saggeaarde seun reeds sedert laerskool geboelie.
Die laagtepunt was twee weke gelede toe een van sy boelies hom na bewering met ’n mes probeer steek het.
“Hy is nie raakgesteek nie. Dit (die skerp voorwerp) het net sy skoolbaadjie getref,” het sy vertel.
Na aanleiding hiervan het sy verlede Donderdag (22 Februarie) ’n beheerliggaamvergadering by die skool bygewoon.
“Ek het gepleit en gesoebat, maar dit het gevoel asof hulle hulle nie veel aan my steur nie,” vertel sy.
“Die seun wat Quwinn probeer steek het, was ook by die vergadering, maar ek hoor hy was die volgende dag weer by die skool.
“Ek voel as hulle hom vasgevat het, sou die afknouery dalk gestop het. Dinge kon soveel erger gewees het.”
Volgens Bronagh Hammond, ’n woordvoerder van die WKOD, was die departement nie van die steekvoorval bewus nie.
“Ons het navraag gedoen en kan bevestig dat die oortreder vir ’n week geskors is en dat ’n tugproses onderweg is.”
Hammond het verder gesê die seun wat Quwinn na bewering verlede week aangerand het, is tydelik geskors en sal voor die skoolbeheerliggaam se tugkomitee verskyn.
Hammond het gesê afgevaardigdes van die Overberg-onderwysdistrik het na Quwinn se ouers uitgereik en ’n ondersteuningspan sal ook die skool besoek om ondersteuning en berading aan te bied.
Hammond het beklemtoon verskeie programme om boeliegedrag by skole aan te pak, is ingestel.
Indien ouers vermoed hul kind word by die skool geboelie, het Hammond verduidelik, is die eerste stap om dit by die skoolbestuur aan te meld.
“Dit kan dan verder na distrik-vlak geneem word indien die ouer voel die skool het dit nie behoorlik hanteer of daaroor gekommunikeer nie.
“Die WKOD bied ook berading indien nodig.
“Die WKOD- Veilige Skole- inbelsentrum (0800 45 46 47) is ’n alternatiewe manier om boeliegedrag aan te meld en die nodige raad en ondersteuning te kry,” het sy bygevoeg.
Kapt. Fadila September, ’n woordvoerder van die Hermanus-polisie, het bevestig twee klagtes – onder meer een van poging tot moord – word ondersoek.
“Die 15-jarige verdagte is aangekla en in sy ouers se sorg vrygelaat.
“Hy sal binnekort in die Hermanus-landdroshof verskyn,” het sy bevestig.
Sy het bygevoeg dat die plaaslike polisie verlede week ’n bewusmakingsprogram oor boeliegedrag by Hawston Sekondêr aangebied het.





