Retha Skein met ’n vars baksel koeksisters.Foto: Mitzi Buys


Daar is min dinge so lekker soos ’n koppie boeretroos saam met ’n koeksister. ’n Koeksister so kraakvars, dat wanneer jy hom hap, spat die stroop en loop dit teen jou ken en vingers af, want ’n koeksister eet ’n mens nie met ’n vurkie nie.

En as jy nog nie een van Retha Skein se koeksister geëet het nie, dan het jy nog nie eintlik gelewe nie, want tannie Retha is beslis Caledon se “koeksisterkwien”.

By Hermanus Times se onlangse besoek aan tannie Retha was sy van vroegoggend al besig om koeksisters vir ’n groot bestelling te bak. Die absolute gemak waarmee sy deeg uitrol, sny en vleg terwyl sy met jou praat, dui daarop dat sy dit al vir baie jare doen.

Niks word gemeet of geweeg nie, tog is elke koeksister eenders en dieselfde grootte.

Tannie Retha is in Clanwilliam gebore en getoë en het wye draai gemaak voordat sy en haar oorlede man, Theo, 43 jaar gelede in Caledon kom woon het. Sy het BSc huishoudkunde aan die Universiteit Stellenbosch studeer, waarna sy in Jansenville gaan skoolhou het, waar sy ook haar man ontmoet het.

Dit was dan ook in Jansenville waar sy begin het om koeksisters te bak. “Ek en ’n vriendin moes die terttafel vir die kerkbasaar behartig en ons moes ook koeksisters bak, iets wat ons nog nooit gedoen het nie, maar in daardie dae kon jy nie sê jy kan dit nie doen nie,” vertel tannie Retha. ’n Tannie in Jansenville het vir hulle ’n resep gegee en gewys hoe om dit te maak.

Nie net het tannie Retha daarna vir mnr. Landman se kafee elke Vrydag koeksisters gebak nie, maar sy en haar vriendin het ook bestellings geneem by mense om geld in te samel vir die kerkbasaar. “Daardie dae het ons dit nie in plastieksakkies verpak nie. Ek het elke Vrydag ’n groot enemmelskottel vol by mnr. Landman afgelewer en vir die ander bestellings het ons hier ’n dosyn en daar twee dosyn gaan aflewer, wat die mense dan in hulle eie houers verpak het,” sê tannie Retha.

En toe kom die Inniebosfees in Mbombela waar tannie Retha se koeksisters in 2016 as die beste in die land aangewys is. “My dogter het my vir dié kompetisie, wat deur Huletts geborg is, ingeskryf. Ons was drie finaliste wat elk 3 000 koeksisters vir hulle moes stuur. Die feesgangers was die beoordelaars,” sê tannie Retha. En daarna was tannie Retha se koeksisters letterlik op almal se lippe en in almal se monde en in baie winkels beskikbaar.

Tannie Retha is nou 81 en omdat sy alleen bak, is sy in die stadium nie eintlik gaande oor te veel afsetpunte nie, want dan sou sy nie kon byhou nie. Haar huishoudster, Jana Booi, help haar wel wanneer daar groot bestellings is, soos nou dat hulle vir verskeie basaars bak.

Dat tannie Retha uit en uit ’n gemeenskapsmens is, is duidelik. Sy is tans die ondervoorsitter van die Caledon-VLV waar sy ook gereeld as beoordelaar optree. “Ek het maar so grootgeword,” sê tannie Retha. “My ma was baie betrokke by die gemeenskap en ek het dit seker maar by haar geleer. Dit is vir my lekker om betrokke te wees, ek wil nie eenkant sit en kyk hoe ander mense werk nie.”

Op ’n vraag of sy tyd kry om enigiets anders te doen, lag tannie Retha heerlik. “Ek hou van brei en lees, maar dikwels wanneer ek saans lê en lees, val die boek maar toe op my gesig.”

Omdat dit Vrouemaand is, vra Hermanus Times aan tannie Retha watter boodskap sy vir vroue en jong dames het.

“Kyk, ek voel ons vroue het ’n groot taak om te verrig. Ons moet ons huise in stand hou en ons kinders opvoed. Daar is soveel versoekings wat deesdae oor kinders se pad kom. Dit is ons taak om ons kinders die regte waardes te leer. Ons kan nie verwag dat skole en kerke ons kinders opvoed nie. Ons moet vir ons kinders baie liefde en omgee gee, want hulle is ons toekoms. Jong mense moet hulle drome navolg, maar dié drome moet realiseerbaar wees,” sê tannie Retha.

Anders as baie bakkers en sjefs deel tannie Retha gereeld haar wenresep. Sy skater heerlik en sê: “Ek gee dit só graag. Ek het dit verniet gekry, so hoekom moet ek iets daarvoor vra?”

Ná 56 jare van bak, kan ’n mens net wonder oor die ontelbare koeksisters wat tannie Retha al gebak het. ’

Vir hoeveel nog sien sy kans? “Ek gaan aanhou bak totdat ek regtig voel ek kan nie meer nie,” is haar antwoord hierop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article