Adene Nieuwoudt is die passievolle krag agter Adene se Plaasblomme.


Nampo Kaap, die tweede grootste landbou-ekspo in die land, het ’n unieke karakter en atmosfeer. Die jaarlikse blomme-uitstallings wat aangebied word, dra beslis ook by tot hierdie unieke karakter.

“Die Kaapse blommeryk word erken as een van die mees uitsonderlike ter wêreld en die jaar word die fynbos-bioom gevier,” het een van die organiseerders gesê. Marjolijn Malan, internasionale blommekuns-beoordelaar, demonstrateur en onderwyser is verantwoordelik vir die Lube Marketing/Castrol Flora-uitstalling in die Voermol-saal. Die tema vir Marjolijn se installasie is, “Waar twee oseane ontmoet in seekat se tuin” en fokus op die inheemse plantegroei en die kusgebied. Die seekat-installasie het 320 suiers wat van sewejaartjies gemaak is en daar is ’n meermin met ’n stert wat bestaan uit 1 431 perlemoenskulpe. Daar is ook ’n paar seediere wat van leucadendron- tolletjies gemaak is, ’n foto-uitstalling van visse wat hier voorkom asook ’n paar bekende vissermanne uit die omgewing en ’n uitstalling van kusplante deur Marjolijn en Gretha Engelbrecht.

“Bekende blommerangskikkers van so ver as Kaapstad en George gaan die seelewe in blomme uitbeeld. Die publiek sal weer die beoordelaars in hierdie kompetisie wees en kan vir hul gunsteling stem,” sê die organiseerder.

Liz van den Berg, wat die tradisionele Japannese kunsvorm Gyotaku beoefen, gaan haar werk uitstal en demonstreer. Hierdie unieke kunsvorm gebruik ink om die afdruk van ’n vis op papier of materiaal te maak. Met hierdie unieke kunswerke plaas sy die kollig op die kompleksiteit van marine-ekosisteme en die noodsaak om dit vir toekomstige geslagte te bewaar. Liz sal Vrydag om 15:00 en Saterdag om 10:00 demonstrasies van die interessante tegniek lewer.

Adene Nieuwoudt is die passievolle krag agter Adene se Plaasblomme. Haar liefde vir die natuur het haar genoop om blomme te kweek. Die tuiniers sal hulle kan verlustig aan die groot verskeidenheid interessante bolle en snyblomme wat sy te koop aanbied.

Gerhard van Deventer van Zandberg-fynbos gaan plante en rotse vertoon en Floraland Fresh bied vars blomme te koop aan. Geoffrey Visser, ’n botaniese waterverf-kunstenaar, sal as deel van die uitstalling skilder en sy kunswerke ten toon te stel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article