Die Nomzamo-opvoedkundige sentrum in Zwelihle kort ’n regruksessie en lesers en sakeondernemings word genooi om by die Hermanus Times-projek betrokke te raak. Foto’s: Mariëtte Strydom


Dis die kinders se gesiggies wat ’n mens eerste opval as jy deur die hekke by Nomzamo-opvoedkundige sentrum loop . . .

Vrolik groet hulle jou, en hul dankbaarheid is tasbaar – veral as jy met ’n aalmoes daar aankom. “Die kinders weet nie van beter nie; dis wat hulle ken en waaraan hulle gewoond is,” vertel een van die onderwysers.

Jy laat sak jou kop in skaamte en dink terug na jou kleuterskooldae waar boeke, speelgoed, toerusting en die mooiste klaskamers aan die orde van die dag was.

Stap jy deur die skool, kry jy ’n knop in die keel . . . daar is net twee werkende toilette vir die meer as 100 kinders, omtrent vier kindertjies sit om elke lessenaar en in die koue moet van die kindertjies selfs op die grond – sonder komberse – slaap, aangesien Nomzamo nie genoeg matrasse en komberse vir almal het nie.

Buite lyk dit nie veel beter nie. Behalwe die groentetuin wat welig groei, is ’n gedeelte van die muur afgesteel en met draad toegespan. Die buitemure is afgedop, die sandput het geen sand in nie en die gras, wat as speelplek vir die kinders moet dien, is dood met onkruid wat nou oorneem.

Die onderwysers is dit eens: Die skool kry wel ’n subsidie, maar dit is gans en al te min vir al die behoeftes van die skool.

Afgesien van die feit dat alles elke jaar agteruitgaan, het die skool ook nie ’n hoof wat na die belange van die kinders en onderwysers omsien nie. “Ons is nou al langer as ses maande sonder ’n hoof. Niemand is al aangestel nie en die pos is ook nie geadverteer nie,” vertel een onderwyser.

Hermanus Times het verlede jaar na die skool uitgereik en ’n spesiale Kerspartytjie gereël waar lesers, ondernemings en selfs die brandweer die dag vir die kinders onvergeetlik gemaak het.

“Maar as gemeenskapskoerant wil ons nog meer doen. Ons wil die skool ’n ‘make-over’ gee. Ons is daar vir die gemeenskap, die waghond van die gemeenskap en kinders lê ons na aan die hart,” het die Hermanus Times-span gesê.

Die koerant nooi die gemeen­skap en sakeondernemings om deel van die projek te wees deur van die volgende te skenk: Panele wat die Vibracrete-muur kan herstel, enige verf om die klaskamers te verf, sand en idees om die sandput op te kikker, skopfietsies, plastiek- lessenaars en -stoeltjies vir die kinders, komberse en ’n klein bed vir die siekeboeg. Die skenkings kan by die Hermanus Times-kantoor in die Birkenhead-gebou in Hoofweg afgelewer word. Die Hermanus Times sal selfs skenkings kom oplaai; kontak die kantoor by 028 312 3717.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article