’n Inwoner van Fisherhaven is op die oorlogspad teen die Overstrand-munisipaliteit aangesien hy na bewering duisende rande meer as sy buurman moes betaal om sy huis aan die riool-pyplyn te laat koppel.
Rodney Gillion vertel hy het in Oktober 2023 aansoek gedoen om aan die munisipale riool-pyplyn gekoppel te word en is toe ingelig die koste sal R6 927 beloop.
Benewens dit, sê hy, moes hy ongeveer R8 550 vir ’n loodgieter se dienste, materiaal, arbeid en die huur van ’n vraghouer vir bourommel uitgee sodat die nodige verbinding voltooi kon word.
Daarenteen, beweer hy, is munisipale hulpbronne soos ’n laaigraaf gebruik om dieselfde werk by sy buurman se perseel te doen.
In ’n brief wat hy aan die munisipaliteit gestuur het om sy misnoeë oor die aangeleentheid uit te spreek, sê Gillion: “ ’n Munisipale laaigraaf is selfs gebruik om die slote te grawe en weer op te vul. Baie netjiese werk deur die munisipaliteit op die munisipaliteit se koste. Maar ek is ingelig dat dit die eienaar se verantwoordelikheid is om arbeid en materiale te voorsien vir die aansluiting van die 1 m- aansluitings-punt. Dit het my ’n ekstra R8 550 gekos en ek moes boonop die kleigrond, stene en rommel wat opgegrawe is, laat verwyder.”
Om die bourommel te laat verwyder, vertel Gillion, het hom nog ’n ekstra R1 100 uit die sak gejaag. Wat hom nog verder frustreer, sê hy, is die feit dat hy selfs ná die aansluiting steeds bykomende rioolverwyderingskostes op sy munisipale rekening kry.
Volgens Gillion het hy die aangeleentheid in Februarie persoonlik by die munisipaliteit probeer aanmeld en is deur iemand wat net as Meneer de Wet geïdentifiseer is, die versekering gegee dat hy aandag aan die kwessie sou gee.
In ’n skrywe wat 4 April gedateer is en deur Overstrand-munisipaliteit se hoof van gemeenskapsdienste, Seon Swartz, onderteken is, is Gillion ingelig dat ’n ondersoek getoon het dat die beamptes “foutiewelik” en “teen munisipale beleid” opgetree het.
Dié brief aan Gillion gaan verder deur te sê die nodige dissiplinêre optrede teen die betrokke beamptes sal volg en dat die koste van die ekstra werk wat by Gillion se buurman uitgevoer is, van die buurman verhaal sal word.
Gillion is egter nie tevrede hiermee nie en sê hy blameer nie sy buurman vir die petalje nie, maar wel die beamptes.
“Ek wil hê die munisipaliteit moet die ekstra kostes wat ek aangegaan het aan my terugbetaal of dit as krediet teen my munisipale rekening aanteken. Meneer Swartz het my egter ingelig hul beleid laat hulle nie toe om dit te doen nie,” sê hy.
Sy buurman, vertel Gillion, is ook nie te vinde vir die idee dat die ekstra kostes van hom (die buurman) verhaal sal word nie.
Hy voeg by: “Sedert die koppeling moes ek my septic tank al drie keer laat leeg pomp.
“ ’n Ingenieur het my vertel dat die munisipaliteit ’n non-returnable valve moet installeer sodat die riool nie weer by my opstoot nie, maar wie gaan daarvoor betaal?” vra Gillion.
In reaksie op ’n navraag rakende Gillion se klagtes het Overstrand- munisipaliteit geantwoord: “Die saak is intern ondersoek en mnr. Gillion dienooreenkomstig geantwoord. Ons beskou die aangeleentheid as afgehandel.”





