Caledon Oogkundiges het sy deure op 2 Mei geopen, maar sy amptelike opening Vrydag (24 Mei) op luisterryke wyse gevier met Caledon FM wat regstreeks van voor die praktyk uitgesaai het, en kliënte en gaste wat ’n ballon kon prik om pryse te wen.
Christine van Rensburg, wat in 2000 as oogkundige gekwalifiseer het, vertel aan Hermanus Times: “Ek het gehoor dat ’n behoefte aan ’n voltydse oogkundige in Caledon bestaan en ná 20 jaar in Kaapstad het ek besluit om die stadslewe vir die platteland te verruil.
“Alles wat die oogkundige beroep kan bied, doen ons hier. Ons het moderne nuwe instrumente gekry wat baie deeglike toetse doen. Ek is baie trots op dit wat ons hier vermag,” sê Van Rensburg.
Leonore Murray en René Swarts, wat by die praktyk werk, is geen onbekendes in Caledon nie en met meer as 30 jaar ondervinding elk verseker hulle saam met Van Rensburg dat kliënte die beste oogkundige diens kry.
Caledon Oogkundiges is in Hoopstraat 8 geleë.




