Is die geskiedenis besig om homself te herhaal?
Dít is die vraag wat menige Botrivier-inwoner vra nadat hulle weer van Vrydagoggend sonder elektrisiteit is.
Gerugte doen die ronde dat dit weens kabeldiefstal is.
Hermanus Times het op 5 Julie 2023 ook berig oor Botrivier wat dae lank sonder elektrisiteit gesit het (“Dae lank sonder krag”, 5 Julie 2023). In die berig het inwoners van 23 tot 28 Junie 2023 sonder elektrisiteit gesit toe hul kragtoevoer weens vandalisme afgesny is en hulle later fase 1-elektrisiteitstoevoer gehad het.
Eskom het op 27 Junie 2023 bevestig diefstal van kabels en vandalisme aan die infrastruktuur oor die Wes-Kaap heen raak die elektrisiteitstoevoer na verbruikers.
Maar nou is dit weer so . . . Retha Evans, die bestuurder van Larenbosch-aftreeoord, het haar misnoeë oor die situasie uitgespreek. “Ons mense is al van Vrydagoggend af sonder elektrisiteit – die aftree-oord, die Botrivier-hotel en die ander ondernemings rondom die hotel.
“Ons het dit aangemeld, maar niks is nog daaraan gedoen nie. Ons kos is besig om te vrot, die omsetters werk nie meer nie en die mense kan nie hul selfone laai nie,” het sy gesê.
Volgens gerugte is dit kabeldiefstal wat almal so verlam. “Dit ruk nou handuit en kan nie meer so aangaan nie.”
Mekie Plato, die raadslid vir Wyk 7 wat deur die beweerde kabeldiefstal geraak word, het bevestig dat sy ’n vergadering met amptenare van Eskom oor die kragprobleem gehou het. “Nadat die krag af gegaan het, het ons dit dadelik by Eskom aangemeld en verwysingsnommers gekry. Hulle het aan my bevestig dat dit diefstal van die oorhoofse kabels was.”
Volgens haar het sy die probleem verder geneem en hoop sy op spoedige herstel. “Wat my bekommer is, hulle sê die probleem kan nog ’n rukkie neem om te herstel. Ons praat van bejaardes wat deur hierdie diefstal geraak word,” vertel sy. “Nadat ek met die Eskom-beampte vergader het, het hy gesê indien die oorsaak kabeldiefstal is, moet Eskom se hoofkantoor die besluite neem oor wanneer en óf hulle dit wil herstel aangesien dit die gemeenskap is wat die probleme veroorsaak het. Ek wil die gemeenskap vra om kabeldiefstal of brandstigting so gou as moontlik aan te meld. Ons almal word deur die toenemende misdaadneiging geraak.”Grabouw
Party inwoners van Grabouw sit al van 7 Julie sonder elektrisiteit. “Die meeste inwoners se krag is ná ses dae herstel; ander eers ná 12 dae; maar party se krag is steeds af,” het ’n inwoner gekla. Molteno-inwoners was 17 dae sonder krag en Jaggervlakte vir 12 dae. Klipkop is ook al 15 dae sonder elektrisiteit.
Raadslede en inwoners het alles in hul vermoë gedoen om elektrisiteit vir die inwoners te kry en selfs koffie en kos is vir die Eskom-beamptes aangedra.
Volgens Christiaan de Vlam, wat al 13 jaar ’n gemeenskapsaktivis in Grabouw is, is party huise in Molteno steeds sonder krag.
“Eskom smeer hulle net af aan ons. As ons foute by die Eskom-kantoor in Grabouw gaan aanmeld, verwys hulle ons na die Bellville-kantoor. Dis mos belaglik.”
Inwoners het ook ’n vreedsame optog na die Eskom-kantoor in Grabouw onderneem om hul misnoeë uit te spreek. Die organiseerder van die optog, Carla Norris, het bevestig 160 mense, wat almal ’n verwysingsnommer het vir foute wat hulle by Eskom aangemeld het, was deel van die optog. Die optog was op 17 Julie.
Volgens De Vlam beplan hulle weer ’n optog na die Eskom-kantoor in die dorp en hoop hulle sal luister.
Nog ’n inwoner van Molteno, wat nou al drie maande sonder elektrisiteit is, sit op moedverloor se vlakte. “Ek het op 23 Mei 2024 R6 052,60 vir ’n nuwe kragboks betaal. Ek het steeds nie ’n boks nie en ook nie elektrisiteit nie,” het sy gesê. Hermanus Times het die bewys van betaling aan Eskom en die erkenning van ontvangs van Eskom in ons besit.
Grabouw-inwoners word deur nog ’n probleem in die gesig gestaar nadat ’n boodskap op WhatsApp die ronde gedoen het dat die pompstasie by Eikenhofdam weens kabeldiefstal nie werk nie. Volgens die boodskap kan dit twee dae duur voor die pompstasie herstel word. Die Theewaterskloof-munisipaliteit kon nie bevestig of dit wel die geval was nie.Volgens Eskom kan enige vandalisering van Eskom-infrastruktuur of kabeldiefstal dadelik aangemeld word by die noodnommer 0800 112 722 of jou naaste polisiekantoor.



