Ian Koch, ontvanger van ’n eerbewys vir sy lewenslange bydrae tot die skoubedryf van Suid-Afrika, saam met Breyton Milford (hoofbestuurder van Agri-Expo) en Chris Fourie (Agri-Expo-president).


Volhoubare landbouskoue speel ’n belangrike rol op die platteland om landbou te bevorder en plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer.

Só het Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, op die jaarlikse Agri-Expo-ledeskoukongres gesê. Dié kongres, wat onlangs by Houw Hoek buite Grabouw plaasgevind het, is ’n jare lange tradisie wat fokus op opleiding vir verteenwoordigers van landbouskoue.

Volgens Milford het vanjaar se kongres weer eens ’n geleentheid vir 80 afgevaardigdes van die Wes- en Noord-Kaap gebied om hulself te meet en met nuwe denke na hul onderskeie skoue terug te keer.

“Vanjaar het ons program gefokus op die vermoë van skoue om aan te pas in ’n veranderende omgewing, relevant te bly in uitdagende tye en sodoende ’n volhoubare voortbestaan te verseker.”

’n Eretoekenning is aan Ian Koch oorhandig vir sy lewenslange bydrae tot die skoubedryf van Suid-Afrika. Koch is sinoniem met Swartlandskou in Moorreesburg, waar hy ongeveer 50 jaar betrokke was. Hy was ook by die destydse Kaapse Skou betrokke en het vir baie jare in die Agri-Expo-raad gedien.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article