Die beoordelaars van vanjaar se Checkers/Shoprite Boereworskompetisie. Foto: Mariette Strydom


Die bekende Checkers-kampioen-boerewors­kompetisie het al baie kampioene die afgelope 24 jaar opgelewer en selfs ’n 13-jarige laerskool­leerder het al met die louere weggestap.

Die kompetisie het in 1992 begin, maar toe kon slegs werknemers van Checkers of Shoprite vir die kompetisie inskryf. Dit is in 2001 vir die publiek oopgestel. Nadat dit vir die publiek oopgestel is, het die kompetisie die verbeelding van menige aspirant-worsmaker aangegryp en familieresepte, nuwe bestanddele en selfs splinternuwe resepte met ’n kinkel is uitgetoets om as die “boereworskoning” bekend te staan.

Vanjaar het Werner Gouws van Riviersonderend uiteindelik die geleentheid gekry om sy geheime resep met almal te deel, en hy is as een van die finaliste van die boereworskompetisie aangewys. Hy vertel hy het uiteindelik ná 18 jaar die geleentheid gekry om ’n finalis in die gesogte kompetisie te word.

Gouws, wat by die proefplaas as ’n dieregesondheidstegnikus werk, het al vyf keer van 2006 af vir die kompetisie ingeskryf.

“Toe ek nog op skool was en selfs as jong volwassene het ek in die vleisbedryf gewerk en dit verskriklik geniet. Ek het dit ook van jongs af geniet om my eie boerewors te maak. My vrou en kinders is seker my grootste ondersteuners en glo ek maak die beste boerewors.

“Dit is ook hulle wat my elke keer aanspoor om vir die kompetisie in te skryf,” vertel Gouws.

Hy was werklik verras toe hy hoor dat hy een van die finaliste is. “Ek probeer al die afgelope 18 jaar om die beoordelaars te beïndruk en ek was so bly om te hoor dat ek een van die 10 finaliste was,” sê hy.

Die 10 finaliste het Saterdag 24 Augustus vroeg-vroeg by die Blaauwklippen-mark buite Stellenbosch bymekaargekom waar hulle hul beste voetjie moes voorsit om die beoordelaars – Zanele van Zyl, Carmen Niehaus, James Khoza, Mattew Howcroft en Martin Kobald – te beïndruk. Die verrassingsbeoordelaar, die Springbokslot Bakkies Botha, het die finaliste en die gaste met sy teenwoordigheid verras en sy besondere ondervinding met die maak van boerewors met almal gedeel.

“Die tyd toe ek in Frankryk rugby gespeel het, het ek besef dat ’n braai sonder boerewors nie ’n braai is nie. Vinnig het ons Suid-Afrikaners ons eie boerewors gemaak en die lekkerte selfs met ander rugbyspelers van Nieu-Seeland en Australië gedeel,” het hy vertel.

Hy het verder gesê dit is ’n eer vir hom om ’n beoordelaar te wees en volgens hom was die punteverskil tussen die finaliste so naby soos die Springbokke se oorwinning in verlede jaar se Wêreldbeker-kompetisie in Frankryk.

Vanjaar loop die wenner nie net met R20 000 weg nie, maar ’n Toyota Fortuner 2.4 GD-6 RB AT is ook deel van die prys.

Die “boereworskoning” wat tweede kom, wen R50 000 en die derdeplekwenner wen R30 000.

Al het Gouws toe nie met die louere weggestap nie, was hy steeds baie beïndruk met die wyse hoe die kompetisie verloop het. “Ek gaan nie lê nie en gaan weer probeer. Die ondervinding was ongelooflik en die atmosfeer onbeskryflik,” het hy die dag beskryf.

Die wenner van die kompetisie is die 37-jarige Ruard Briel van Centurion.

Dit is ook sy sewende keer wat hy vir die kompetisie ingeskryf het en hy was baie verras om as wenner uit die stryd te tree.

Marthinus Verwey van Bloemfontein was tweede terwyl Jasper Gordon van Strand met die derde plek weggestap het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article