Hawston Skrik vir Niks is boaan die punteleer.

Hawston Skrik vir Niks bly boaan die punteleer na oorwinning oor Botrivier


Van die laaste wedstryde van die eerste ronde van die Sanlam-Boland-Top-12 is Saterdag gespeel en dit is duidelik dat Hawston Skrik vir Niks die span is wat die Overberg in die Top-12 gaan verteenwoordig. Nou is die vraag op almal se lippe: Wie gaan saam met hulle om die Overberg te verteenwoordig? Menige rugbyondersteuner is van mening dat dit Botrivier gaan wees, maar soos sake nou lyk, kan dit enigeen wees – of Botrivier of Safcol, en moenie Universals weggooi nie.

Saterdag se wedstryd tussen Botrivier en Hawston was seker die hoogtepunt, maar dit is Hawston wat gewys het hy kan gate deur sy teenstanders hardloop. Dit is nie net Hawston se agterspelers wat die heeltyd deur Botla se verdediging gebreek het en die geleenthede in punte omskep het nie, maar sy voorspelers het sommer aan die begin van die wedstryd gewys hulle kan as span ook drieë druk.

Botla kan homself kwalik neem vir die loesing van 41-19 – nie net was hul verdediging nie op peil nie, maar slordige hanteringsfoute in die agterlyn het gemaak dat Skrik vir Niks die bal oppik en agter die doellyn gaan kuier.

Atlantics het al die pad na Grabouw gereis en Safcol op Bousandpark gaan aandurf. Om op Grabouw se veld te speel, het sy eie uitdagings en Atlantics het die onderspit teen Safcol gedelf. Saffies het weer soos die span van ouds gespeel toe hulle as die Boland-Top-12-kampioen aangewys is.

Goeie samespel tussen die voor- en agterspelers, spelers wat hul geleenthede gebruik en goeie verdediging het Safcol gehelp om Atlantics 43-17 te wen.

Ander uitslae is: Genadendal 26-21 Bredasdorp Rangers en Kleinmond 38-31 Villiersdorp.

Caledon, wat nog tot onlangs een van die topspanne in die Overberg was, moes weer eens met ‘n nederlaag tevrede wees. Die span het 31-27 teen die Sea Hawks verloor.

Steeds bemoedig die bestuur van Caledon hul ondersteuners en vra dat hulle hul span ‘n kans moet gee.

Aan die einde van die eerste ronde is Skrik vir Niks boaan die punteleer met 54, Safcol en Botrivier is tweede en derde met 47 punte, Stanford is vierde met 42 punte en die nuweling in die Grootuitdaagreeks, Atlantics, is vyfde met 31 punte.

• Saterdag speel Stanford teen Grabouw en Caledon teen Villiersdorp op Villiersdorp.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article