Na Saterdag se wedstryde waarin Hawston Skrik vir Niks Atlantics geklop het en Botrivier die onderspit gedelf het teen Universals van Stanford, het die punteleer verander en nou is Hawston die voorlopers.
Saterdag se derby tussen Skrik vir Niks en Atlantics het nie eintlik verrassings opgelewer nie. Hawston, wat dié jaar een van die gunstelinge is om na die Boland-Top-12 deur te dring, het met sy goeie spel Atlantics 36-15 geklop. Skrik vir Niks was die hele tyd op die aanval en Atlantics moes hul keer goed ken. Maar moet niks van Atlantics wegvat nie. Die span, wat verlede jaar nog in die Streekuitdaag-reeks gespeel het, het gewys dat hulle hul man teen die grotes kan staan. Atlantics se verdediging was uit die boeke en het vir Hawston ‘n paar keer voor die doellyn laat les opsê.
Hawston gaan definitief die jaar sy ondersteuners gelukkig maak. Nie net is die samespel van die spelers van hoogstaande gehalte nie, maar die manier hoe die agterlyn die bal laat vloei, lei gereeld tot goeie drieë. Dit was ook die eerste keer in vier jaar dat daar weer ‘n derby tussen die twee spanne was en die atmosfeer in die paviljoene en selfs op die veld was aanvoelbaar.
Die wedstryd is ook in ‘n baie goeie gees gespeel en die twee spanne is dit eens dat hulle nie kan wag vir volgende jaar se derby nie.
Verlede jaar se wenner van die Overberg, Botrivier, kon Saterdag nie hul onoorwonne status voortsit nie, en is op hul tuisveld deur Stanford 33-27 geklop. Van die staanspoor af het dit gelyk of Botrivier nie in die wedstryd was nie en kon hulle nie net hul lynstane wen nie, maar het ook ongedwonge foute gemaak. Stanford het baie goed gespeel en elke geleentheid gebruik om punte aan te teken.
Al het Universals in een stadium met 13 manne gespeel, kon Botrivier nie van die geleentheid gebruik maak om die wedstryd in hul guns te draai nie.
Ander uitslae was Safcol 45-5 Caledon, Bredasdorp Rangers en Grabouw het gelykop 36 elk geëindig, Villiersdorp het met ‘n punt teen Genadendal verloor (24-25) en Sea Hawks het Kleinmond 36-33 geklop.



