By die onlangse middagtee van die Holy Trinity kerk – van links is Loretta Speelman, eerwaarde Patty Edwards, Ingrid Jones (gasspreker) en Georgina Simons. Foto: Mitzi Buys

Wanneer die vroue van die Holy ­Trinity Anglikaanse kerk ‘n middagtee ­aanbied, kan jy maar weet dit gaan ‘n spoggeleentheid uit die boonste ­rakke wees. En dis presies hoe dit by die ­onlangse middagtee was, wat as ‘n geld­insamelingsprojek in die Victoriasaal in Caledon aangebied is.

Die 54 gasvroue was verantwoordelik vir 28 keurig gedekte tafels – elkeen volgens die gasvroue se eie smaak – met ‘n heerlike verskeidenheid soet- en soutgebak.

Die tema vir die middagtee was “Blom waar jy geplant is” en die meeste gaste het ten spyte van die koue, nat weer in vrolike geblomde uitrustings opgedaag.

Ingrid Jones – ‘n TV-aanbieder, entrepreneur, sosialemediapersoonlikheid en stigter van Mikateko Media – was die gasspreker. “ Caledon is ‘n deel van my komvandaan. Hoewel ek in Bonnievale grootgeword het, is ‘n stukkie van my hier geplant. Ek is Patrick Geldenhuys van Myddleton se oudste dogter. Ek’s in die kerk in Myddleton gedoop en het omtrent elke Kersfees en Paasfees in Myddleton deurgebring. My oom en tannie woon nog hier in Bergsig,” het Jones gesê.

In haar treffende toespraak het Jones gevra wat beteken “Blom waar jy geplant is” vir mense wat nie sade of saailinge is nie. “Party van ons is sade wat voortdurend rondwaai en elders blom. Party van ons is potplante – ons gaan nêrens heen nie; ons sit in die son. Party het baie water en aandag nodig. Party is droogtebestand en kan alles oorleef. Met party moet jy praat as jy wil hê hulle moet mooi groei. Maar ons is nie plante nie. Ons kan wel vergelykings tref tussen die mens en die plant en iets daaruit leer, maar die werklikheid is ‘n ander storie.”

Jones het genoem “ons leef in ‘n baie selfsugtige samelewing” waar die eie ek opgeblaas word en waar elkeen net vir hom- of haarself leef. “Hoe gaan ons blom in Caledon?” het Jones gevra en ­genoem mense moenie blind wees vir die werklikheid nie. Sy het ook verskeie maat­skaplike en sosiaal-ekonomiese uitdagings uitgelig en die gehoor aangemoedig om die plaaslike ekonomie te ondersteun, om in jong mense te belê en om trots te wees op die plek waar hulle woon. “Leer ken mekaar en ondersteun mekaar om Caledon te bou en nie af te breek nie. As ons blom waar ons geplant is, kan ons ‘n verskil maak in ‘n gemeenskap waarop ons trots kan wees.”

Eerwaarde Patty Edwards van Holy Trinity sê: “Die gasvroue het hulle uitste­kend van hul taak gekwyt. Die saal was nie net vol met omtrent 270 gaste nie, maar ook pragtig versier. Die samewerking tussen die vroue was fantasties en ek is regtig trots op hulle, want hulle het die kerk se naam hoog gehou.

“Holy Trinity het die geld broodnodig. Ons het baie wat ons moet doen en die opbrengs van hierdie middagtee het toegesien dat ons nou ‘n bietjie ekstra kan doen en daarvoor sê ons baie dankie aan die gemeenskap vir hul ondersteuning en ook aan die gasvroue wat absoluut hul beste gelewer het. As ‘n mens jou beste vir die Here lewer, kan jy net die beste van die Here terug verwag. Dit is ‘n manier hoe ons die opstandingsboodskap ook uitleef deurdat ons op hierdie manier teruggee sodat die Here se werk hier op aarde gedoen kan word.”

Danksy ruimhartige skenkings het een vrou aan elke tafel ‘n prys gewen wat ‘n halwe skaap, koopbewyse en spa-behande­lings ingesluit het.

• Eerwaarde Edwards het haar opregte dank aan die prysborge uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article