Die gemeenskapsradiostasie Radio Overberg het Saterdag 11 April sy 15de bestaansjaar in die galery van Kapula Candles gevier. Ter viering van hierdie mylpaal is verskeie uit- en opvoerings asook kompetisies aangebied.
Een van die hoogtepunte was dié van die bekende Overbergse skrywer Bibi Slippers van Baardskeerdersbos, wat met “In die bed met Bibi” voorlesings van bekende Overbergse skrywers en digters gedoen het. Bibi het ook uit haar eie digbundels voorgelees – dit alles op ‘n bed vol kussings wat spesiaal na die Kapula Candles galery gebring is.
Radio Overberg saai op die frekwensie 101.8 FM uit en dek die hele Kaap Agulhas- munisipale gebied en is ook die eerste gemeenskapsradiostasie wat die 100FM-frekwensiegrens oorgesteek het. Sedert sy ontstaan in 2011 is die reikwydte uitgebrei na wêreldwye uitsending via internettoegang.
Die musiekgenre, wat goue-oue-treffers, jazz, klassiek, rock, gospel, boeremusiek en plaaslike musiek insluit, weerspieël die kultuur van die demografiese samestelling van die gemeenskap. Radio Overberg, wat in die sakekern van Bredasdorp geleë is, gebruik top-gehalte plaaslike aanbieders uit die gemeenskap. Die taalbeleid is 70% Afrikaans en 30% Engels.
Die omroeper Letty-Ann Möller sê: “Wat ‘n wonderlike leerkurwe is dit nie. Om elke dag jou lyf joernalis, sielkundige, onderwyser, kommentator, nuusleser en komediant te hou, is genoeg om enige adrenalienvraat te laat aanhou praat – 15 jaar lank, om presies te wees.”
“Vir my was die eerste treetjies soos vir ‘n laboratoriumrot wat helium gesluk het. Behalwe dat ek geskok was om my eie stem oor die radio te hoor, was ek konstant op ‘n high. Ek moes met selfbeheersing keer dat die opwinding nie my desibels laat kante raak en distorsie veroorsaak nie. Klank kan kwesbaar wees. Nou, 15 jaar later, is ek steeds ‘n prater en geniet ek elke nuwe kollega, elke kortstondige ateljeegas en verál dié wat klokslag hul inligting op Radio Overberg kom deel. Ja-nee, ek is dankbaar dat ek destyds ons stigtingsvergadering, wat by die Victoria Hotel gehou, is bygewoon het. Sedertdien het baie water oor die radiogolwe in die see geloop,” sê Möller.





